--> -->
Spyskaart +

Presidensiële inhuldiging: die geval van twee huisgesinne

Mei 13, 2019 deur Mareli Rall

Die onlangse onthulling dat president Cyril Ramaphosa versoek het dat munisipaliteite van al nege provinsies 2 000 mense (altesaam 18 000) op eie onkoste na die presidensiële inhuldiging (wat reeds R120 miljoen gaan kos) by Loftus Versfeld-stadion moet aanry, laat mens opnuut besef dat die regering nie ’n benul het van watter uitdagings gewone mense elke dag in die gesig moet staar nie.

’n Eenvoudige vergelyking beeld dit goed uit:

Daar is twee gesinne wat finansiële moeilikheid ervaar. Nadat die ouers van die een gesin salaris gekry het, besluit hulle om aan die begin van die maand te gaan uiteet by ’n weelderige restaurant, sodat al die mense op die dorp kan sien dat hulle kan uithaal en wys. Boonop gebruik hulle die kinders se sakgeld om die uitstappie te help befonds. Ná hierdie ete het die gesin niks geld oor vir die res van die maand nie. Die ander gesin doen dinge bietjie anders – hier koop die ouers, nadat hulle salaris ontvang het, kruideniersware vir die hele maand, betaal hul kinders se sakgeld, én sien toe dat hulle dit oordeelkundig bestee.

In watter huisgesin sou jy eerder wou wees?

Die president wil duidelik met hierdie extravaganza aan die buiteland wys dat dit goed gaan in Suid-Afrika en dat elke landsburger uiters ingenome met die ANC-regering is. Die beweegrede vir die duurste presidensiële inhuldiging in Suid-Afrikaanse geskiedenis is klaarblyklik om groter publieke deelname aan hierdie “belangrike nasionale gebeurtenis” toe te laat. Dit gaan inwoners van die land egter verder in die posisie van die eerste huisgesin laat.

Op grondvlak het munisipaliteite ’n grondwetlike plig om sekere basiese dienste aan hul inwoners te voorsien. Op talle plattelandse dorpe en selfs in stede gaan dit beroerd wanneer dit kom by dienslewering. In Parys vloei rou riool in die strate, in Witbank is die water besoedeld, in talle dorpe word vullis nie verwyder nie, Eskom dreig om Musina se krag af te sny… Swak dienslewering lei weer tot protesoptrede wat baie dorpies lamlê, omdat die polisie nie in staat is om te keer dat betogers ander inwoners ontwrig of skade aan eiendom aanrig nie. Munisipaliteite se verskoning is terstond dat hulle nie fondse het om dienste te lewer nie. Wanneer die ouditeur-generaal se verslag egter bewys dat munisipaliteite se onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes meer as R28 miljard beloop en slegs 33 van 257 munisipaliteite in 2018 ’n skoon ouditverslag ontvang het, is hierdie antwoord ’n bitter pil om te sluk.

Luidens die presidensie is die tema van die inhuldiging: “Together celebrating 25 years of freedom: Renewal and Growth for a better South Africa.” Wanneer die regering egter versoeke soos hierdie aan reeds sukkelende munisipaliteite rig en munisipaliteite op hul beurt nie skroom om miljarde rande belastinggeld te wanbestee nie, hoe vry is Suid-Afrika werklik? As verantwoordelike regering behoort die presidensie eerder meer soos die ouers in die tweede scenario hierbo op te tree deur voorsiening te maak vir die lang termyn en nie vir ’n eenmalige gebeurtenis wat die land nie kan bekostig nie.

Ek gesels onlangs met ’n vlugteling vanuit Rwanda. Wanneer daar geleenthede soos die inhuldiging dáár plaasvind, staan die weermag volgens hom al van 3-uur daardie oggend af wag om toe te sien dat die burgery die geleentheid bywoon. As Suid-Afrika se regering skuldbelaste munisipaliteite kan versoek om nóg meer geld te mors op ’n ligsinnige byeenkoms soos hierdie, moet ons uit ander Afrikalande leer en onsself begin afvra tot watter stappe die regering hom volgende sal wend om sy spandabelrigheid voort te sit.

Steun AfriForum se #StopDieBus-veldtog teen hierdie vermorsing van belastinggeld by https://www.afriforum.co.za/stopdiebus/.