|

Pres. Brand-begraafplaas spog met pragtige nuwe heining

Die historiese Pres. Brand-begraafplaas in Bloemfontein is vanjaar danksy die betrokkenheid en bydraes van verskeie rolspelers opgeknap en pragtig omhein.

Die inwyding op 14 Julie vanjaar het saamgeval met die president se afsterwe 130 jaar gelede. Tydens dié geleentheid was daar ook ’n kranslegging en boomplantseremonie.

Die begraafplaas is geleë in Presidentlaan wat vroeër Rhodslaan was. In die begraafplaas is daar ’n Presidente-akker met die grafte van oudpresidente van die RSA, die familiekerkhof van pres. Brand, die familiekerkhof van pres. Reitz, asook van die oudste burgergrafte sedert die ontstaan van Bloemfontein in 1846.

Daar is ook ’n Joodse gemeenskapsafdeling, grafte van Engelse soldate en van vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog omgekom het.

Die Ou Presidensie Historiese Vereniging, waarvan Lambertus van Rensburg die voorsitter is, het hulle vir die opknapping van die familiekerkhof van pres. Brand beywer. Die vereniging is egter al bykans twee jaar besig om toestemming te probeer kry vir die restourasie van die president se standbeeld wat in Pres. Brandstraat, sowat 5 km van die begraafplaas af, staan.

Die vereniging het wel ’n permit van die Provincial Heritage Resources Authority (PHRA) in die Vrystaat verkry vir die heroprigting van ’n heining om die pres. Brand familiekerkhof, maar die PHRA kan nie toestemming gee vir restourasie van die beeld alvorens die stadsbestuurder van die Mangaung-metroraad die groenlig hiervoor gee nie.

Talle skrywes en navrae vir toestemming en goedkeuring wat selfs tot verlede maand aan amptenare by die metroraad gerig is, val op dowe ore en ontvangs van die skrywes word nie eens erken nie.

Pres. Johannes Henricus Brand is op 6 Desember 1823 in die Kaap gebore en op 14 Julie 1888 in Bloemfontein oorlede. Hy was ’n Suid-Afrikaanse prokureur en politikus en die vierde staatspresident van die Oranje Vrystaat. Hy was met Catharina Fredrica Küchler getroud en die egpaar het agt seuns en drie dogters gehad.

Van Rensburg sê hulle hoop dat die stadsbestuurder in die nuwe jaar vir hulle ’n positiewe antwoord sal hê. “Ons bly positief. Die president het immers altyd gesê: ‘Alles zal recht komen, indien elke man zijn plicht doet.’”

AfriForum en verskeie ander organisasies en instansies beywer hulle vir die bewaring en instandhouding van erfenisse en maak bydraes om dit moontlik te maak.

Soortgelyke plasings