Header Artwork
Praktiese wenke vir goeie welstand tydens die staat van inperking

Deur Johan Nortjé

Die eerste COVID-19-geval in Suid-Afrika is vroeg in Maart 2020 bevestig, maar bevestigde gevalle neem egter daagliks toe. AfriForum en die breër Solidariteit Beweging besef gemeenskappe en inwoners gaan onder uiterse moeilike omstandighede gebuk. Afgesien van die ekonomiese en logistiese uitdagings wat die koronavirus en die staat van inperking tot gevolg het, is daar ook die sielkundige en sosiaal-maatskaplike impak op mense en hul direkte omgewing.

Selfsorg gedurende isolasie

Dit is belangrik om bewus te wees van die moontlike invloed wat isolasie tydens die staat van inperking veral op jou gemoed kan hê. Mense sukkel oor die algemeen om verandering te aanvaar en verwerk. Aanpassingsprobleme kom gewoonlik voor waar ’n persoon dramatiese of traumatiese ontwrigting beleef of van ’n bekende omgewing ontneem word. Onduidelikheid en onsekerheid oor die toekoms kan soortgelyke gevolge hê. Die moontlike verlies aan vryheid van beweging kan tot angs lei, asook die afstand van sosiale strukture wat voorheen vir jou veiligheid gebied en voorspelbaarheid verseker het.

Dit is dus noodsaaklik om verantwoordelik ingelig te bly oor jou nuwe omstandighede, dinge wat jou daaglikse gemoed kan beïnvloed en om dan gesonde selfsorg toe te pas. Die volgende wenke is belangrik vir selfsorg.

  • Bly in kontak. Maak gebruik van visuele kommunikasie middele soos Zoom, Skype en WhatsApp om in kontak met kollegas, vriende en familie te bly. Hulp en emosionele ondersteuning is net ’n oproep ver. Ons het elkeen nou die geleentheid om opnuut te besef hoe kosbaar die geskenk van fisiese aanraking deur geliefdes is.
  • Bly ingelig. Kennis verdryf onsekerheid en vrees. Bly ingelig deur bekwame deskundiges en gesaghebbende bronne te raadpleeg voordat jy gevolgtrekkings maak oor omstandighede en gebeure waaroor jou kennis dalk beperk is. Besoek gerus die Wêreldgesondheidsorganisasie se webwerf vir meer inligting:

(https://www.who.int/emergencies/diseases/novel-coronavirus-2019/advice-for-public/myth-busters).

  • Neem gereeld ’n blaaskans. Met so baie nuus wat die rondte doen, kan berigte oor COVID-19 ’n sneller wees vir verdere angs. Neem daarom gereeld ’n blaaskans van sosiale media. Dit is in jou eie belang om nie voortdurend traumatiese nuus oor een onderwerp te lees nie.
  • Let op na simptome en bly kalm. Dit is belangrik om enige COVID-19-simptome ernstig op te neem, byvoorbeeld hoes, koors of ’n seer keel. Dit is egter net so belangrik om kalm te bly. Tree altyd volgens die gesondheidsbedryf en owerhede se riglyne op.
  • Hou jouself dop. Een van die kenmerkende simptome van ’n depressiewe gemoed is die verlies aan belangstelling in aktiwiteite wat jy vantevore geniet het. Probeer om nuwe kreatiewe aktiwiteite te ontdek waarvan jy hou, of bly kreatief aktief deur goed te doen waarby jy nooit uitkom nie, soos om ’n nuwe resep te toets. Besoek die volgende webwerf vir resepte waarvoor jy meestal net vyf bestanddele benodig: https://www.bbcgoodfood.com/recipes/collection/five-ingredients-or-less.
  • Dink na oor wat belangrik is. Maak gebruik van die tyd om dit wat vir jou belangrik is, te herevalueer. Dit is ’n goeie geleentheid vir selfontdekking: Herontdek weer die eenvoudige dinge wat die lewe die moeite werd maak, soos kosmaak, skilder, musiek luister, boeklees of om ’n familielid of vriend te bel.
  • Kyk na jou gesondheid. Die ontwrigting van ’n normale roetine kan tot spanning en angs lei. Op sy beurt kan dit weer jou immuniteit aftakel, wat jou meer kwesbaar maak vir infeksie. Genoeg slaap, ’n gesonde dieet en daaglikse oefening by jou huis of selfs net ’n goeie streksessie kan moontlik help om simptome van spanning te verlig. Besoek die volgende webwerf vir wenke oor hoe om by die huis te oefen: https://www.healthline.com/health/fitness-exercises/10-best-exercises-everyday#start-here.
  • Praat met jou dokter indien nodig. Wees bewus van die moontlikheid om verkeerd gediagnoseer te word. Sowel die fisiese simptome van spanning (soos sweet en vinnige hartkloppings) as simptome van angs (soos spierkrampe, ’n toegetrekte bors, ’n “knop” in die jou keel, naarheid of ongemak in jou maag) kan moontlik verkeerd geïnterpreteer word as simptome van ’n ander siektetoestand. Dit kan bykomende spanning veroorsaak. Kommunikeer dus duidelik met jou gesondheidsorgpraktisyn oor wat jou bekommernisse en behoeftes is.
  • Praat met ’n sielkundige. Vir die van ons wat nog altyd ’n afspraak wou maak, maar dalk benoud was, is dit nou ’n ideale geleentheid. Maak telefonies ’n afspraak met ’n kliniese sielkundige of terapeut indien jy ongesteld voel of meer duidelikheid oor jou huidige angssimptome soek. Vra die kliniese sielkundige of terapeut of dit moontlik is om die sessie virtueel deur middel van iets soos Skype te hê.

Hulp en ondersteuning deur die burgerlike samelewing is nou belangriker as ooit. Maak ’n positiewe virtuele verskil in jou gemeenskap deur die volgende riglyne toe te pas:

  • Stop fopnuus. Moenie COVID-19-nuus versprei wat nie deur ’n gesaghebbende bron geverifieer is nie, soos byvoorbeeld ’n mediese kenner.
  • Wees deel van die oplossing. Indien jy nuus of sosialemediastories aanstuur wat met COVID-19 verband hou, vra jouself die vraag: “Is ek deel van die oplossing of deel van die probleem deur hierdie nuus te versprei.?”
  • Maak ’n bydrae. Skenk aan ’n maatskaplike organisasie soos Solidariteit Helpende Hand mits jou finansiële omstandighede dit toelaat. Indien jy vir absolute noodsaaklike redes die huis moet verlaat, vra of jy ook namens ’n kwesbare lid van jou gemeenskap of familie kan gaan – jy kan moontlik ’n lewe red.
  • Sien die positiewe raak. Kyk objetief na die situasie en sien die positiewe raak. Soms is ’n krisis al wat nodig is om mense te laat saamwerk, selfs mense wat voorheen nie met mekaar oor die weg gekom het nie. Let op na al die goeie dinge wat met jou gesin, in die buurt of die gemeenskap gebeur.
  • Moenie stigmatiseer nie. Moenie mense wat COVID-19 opdoen, stigmatiseer of verwerp nie. Hulle benodig juis nóú jou empatie en emosionele ondersteuning.

Raadpleeg die volgende webwerwe vir verdere inligting:

Johan Nortjé is ’n navorser by die AfriForum Navorsingsinstituut.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN
AFRIFORUM AMBASSADEUR