Spyskaart +

Praktiese plan vir selfbeskikking

Oktober 4, 2017 deur Flip Buys

 

Flip Buys – Uitvoerende Hoof van Solidariteit

Groeiende selfstandigheid as antwoord op praktiese uitdagings vir selfbeskikking

Die opspraakwekkende referendums vir onafhanklikheid deur Katalane in Spanje en Koerde in Irak, het die vraagstuk oor die toepaslikheid van Selfbeskikking vir Suid-Afrika weer na vore gebring. Selfbeskikking in die vorm van ‘n onafhanklike staat is ’n baie omstrede begrip in die Suid-Afrikaanse konteks. Teenstanders glo dis net ’n sagter woord vir apartheid en moet sterk bekamp word. Voorstanders daarvan hou vol selfbeskikking is in pas met internasionale reg en dat Afrikaners ook daarop geregtig is.

Wat is die feite? Die beginsel van selfbeskikking is inderdaad in lyn met internasionale reg en is ’n geldige strewe wat ook deur die Suid-Afrikaanse Grondwet in artikel 235 erken word. Selfbeskikking het wêreldwyd boonop ’n linkse of liberale kleur. Konserwatiewe Westerse regerings het byvoorbeeld selfbeskikking vir hul kolonies dekades lank teengestaan. Daarby was sentralistiese regse regerings in Spanje, Frankryk en Brittanje histories gekant teen outonomie vir hul nasionale minderhede. Moderne selfbeskikkingsbewegings soos dié in Quebec en Skotland is links, terwyl talle ander Marxistiese bande het of Moslemgesind is. In Suid-Afrika het regse regerings jare lank die linkse ANC se strewe na selfbeskikking vir die totale bevolking teengestaan. In die moderne staatspraktyk is ruim voorsiening vir verskillende vorme van selfbeskikking of minstens outonomie egter deel van die beste praktyke van wenlande.

Neo-apartheid

Die probleem is dat Afrikanerselfbeskikking in Suid-Afrika ’n verregse kleur gekry het en met ’n vasklou- of terugkeer na apartheid vereenselwig word. Dit spruit veral voort uit die politieke vergiftiging daarvan deur sommige verregse heethoofde wat die begrip met koddige neo-apartheidsplanne belaglik gemaak het. Terselfdertyd het dit ammunisie gebied vir teenstanders om die planne as agterlik en rassisties af te skryf. Daarby het die ANC natuurlik ’n sterk magspolitieke beweegrede om die gevaar van ’n “terugkeer na apartheid” te gebruik om hul strewe na totale oorheersing van die samelewing te regverdig.

Die vraag is wat die kanse tans op onmiddellike selfbeskikking in Suid-Afrika is. Die antwoord is nie positief nie. Hoewel ’n reg op selfbeskikking bestaan en die strewe in die Grondwet erken word, bestaan daar nie ’n pasklaar ‘Afrikanergebied’ wat net vry gestem, in ’n hof gewen, deur onderhandeling verkry of selfs vry geveg kan word nie. Daarvoor is Afrikaners regoor die land net té yl versprei en maak hulle nêrens ’n natuurlike, betekenisvolle meerderheid wat selfbeskikking steun uit nie. Dieselfde rede waarom die Afrikaner sy selfbeskikking verloor het, maak dus nog steeds die herstel daarvan onmoontlik.

Die grootste struikelblok lê dus nie by die reg op selfbeskikking, of die ANC se teenkanting nie, maar by die praktiese inwerkingstelling daarvan. Voorstanders van Afrikanerselfbeskikking steek gewoonlik by die teorie vas en kon tot dusver nog nie daarin slaag om ’n werkbare plan te ontwikkel, én massa-steun daarvoor te monster nie.

Bepalings en voorwaardes

Soos enige ander reg, is die reg op selfbeskikking nie absoluut nie en moet dit opgeweeg word teen ander ewe geldige regte, oftewel kwalifiserende ‘bepalings en voorwaardes’. Die belangrikste hiervan het te make met die menseregte van die gebied se ander inwoners wat geraak word. Daar is nie ’n kans dat voorstanders van Afrikanerselfbeskikking hul regte erken sal kry ten koste van die menseregte van nie-Afrikaners wat in dieselfde gebied woon nie.

Skrefiesdeur

Dit beteken nie dat die deur op selfbeskikking heeltemal gesluit is nie –’n paar moeilike, dog werkbare moontlikhede bestaan wel- ten minste vir interne vorms daarvan. Geen verstandige gemeenskap op hierdie onstuimige vasteland behoort die skrefiesdeur op selfbeskikking toe te maak nie. Daardie reg is in die Grondwet vervat en dit is net verantwoordelik om die deure van alle moontlike grondwetlike ruimtes en geleenthede oop te hou. ’n Grondwet is tog nie soos ’n spyskaart waar net sommige regte gekies word nie. Regte wat bestaan mag en moet opgeneem word. ’n Betreklik kwesbare minderheidsgroep sal polities roekeloos wees om enige oop deur self toe te slaan. Die strewe na selfbeskikking kan op ’n wettige, verstandige en verantwoordelike manier, (miskien onder ’n meer aanvaarbare naam) as ’n soort strategiese risikobestuursplan bevorder word.

Mense wat so ’n ‘agterdeur-opsie’ summier as onwenslik en onwerkbaar wil afskiet, moet dit billikheidshalwe eers opweeg teen die risiko’s van permanente ondergeskiktheid van hul eie toekoms aan die ANC. Anders gestel, hulle moet die waarde wat so ’n risikobestuursplan kan toevoeg, eerlik opweeg teen die kanse dat die ANC hulle oor die volgende twintig jaar beter gaan regeer as wat die afgelope 20 jaar die geval was.

Dorp na stad

Wat is egter die praktiese moontlikhede vir volle selfbeskikking in die vorm van ‘n onafhanklike staat? Bevolkingswerklikhede is die belangrikste bepaler vir inwerkingstelling. In ’n vervlegde gebied word die kans op selfbeskikking beperk deurdat die meerderheidsgroep ten nouste daardeur geraak word. Dít sluit moontlike modelle in die digbevolkte gedeeltes van die land uit, omdat selfbeskikking in hierdie gebiede van ANC-instemming afhanklik sal wees.

Daar is egter minstens een oorblywende moontlikheid, naamlik groeiende selfstandigheid. Hoewel die eertydse groot volkstaatplanne nie haalbaar is nie, kan interne selfbeskikking in ’n ylbevolkte gebied van ‘onder’ af te ontwikkel soos die plan wat Orania het om van dorp tot stadsgebied te ontwikkel. Die spoed van die vordering sal afhang van hoe gou hoeveel steun so plan sal kry. Die grootste voordele is dat die ANC se toestemming nie daarvoor nodig is nie, enige iemand mag ‘n stad bou. Die gebied se bevolkingsgetalle bring mee dat ‘n betreklik klein getal Afrikaners nodig sal wees om ‘n meerderheid in die groter Orania gebied te vorm. Nog ‘n  voordeel is dat weens die betreklik afgeleë ligging van die gebied, die inwoners in die praktyk dadelik plaaslike- provinsiale en selfs sekere nasionale bevoegdhede ook sal kan uitoefen. Die rede is omdat daar nie sterk ontwikkelde en verweefde staatstrukture in die gebied bestaan nie.

Ontwikkeling en erkenning

So ‘n strategie sal op twee spore moet beweeg: praktiese ontwikkeling en die groeiende erkenning daarvan deur onderhandeling en samewerking met die owerhede. Hierdie model kom neer op ‘groeiende selfstandigheid,’ en is ver verwyder van die rassevolkstaatkaarte van vroeër. Dié projek het wel nog talle leemtes, maar dis beter om dit te help regstel, eerder as om dit ook verlore te laat gaan. Hierdie strategiese risikobestuursplan kan net werk as dit van enige sweem van rassisme ontkoppel word en as dit as toegevoegde waarde vir die hele land gedoen word. ‘n Voorbeeld is om dit as ’n mededingende alternatief vir emigrasie aan te bied. Hierdie planne kan aanvullend tot die Solidariteit Beweging se strategie wees, naamlik om oral behoorlike regering te verseker, landswye gemeenskapsoutonomie te ontwikkel met sterk selfdoeninstellings, en om skikkings oor knelpunte met die owerhede aan te gaan. Hierdie strategie kom op “selfdoen outonomie” neer, wat deur privatisering, selfstandige instellings en gemeenskapsprojekte bewerkstellig word. Dit kan outonomie insluit vir sake soos privaat onderwys, opleiding, welsyn, Afrikaans, veiligheid en die talle ander projekte van die beweging om selfstandigheid op alle belangrike terreine te verseker. AfriForum se projekte om landswyd munisipale dienste te verbeter en plaaslike selfstandigheid waar die demografie dit toelaat, kan natuurlik uitgebrei word om die Orania “dorp na stad” projek te help bespoedig.

Die Romein, Sallust, het tereg gesê dat min mense vryheid begeer; die meeste wil net regverdige heersers hê. Die geskiedenis het egter ook bewys dat mense wat nie goed regeer word nie, uiteindelik daarop aandring om hulself te regeer. Hierdie aandrang kan tot konflik lei as dit nie in ‘n opbouende rigting gelei word nie. Daarom behoort selfs die felste teenstanders van selfbeskikking, aan Afrikaners wat die grondwetlike ruimte daarvoor wil benut, die reg te gun om dit na te streef.