|

Postmasburgers woeker in hul dorp

Deur Zelda Malan

Wat aanvanklik as ’n AfriForum Jeugprojek in samewerking met Hoërskool Postmasburg se YCAP-leerders begin het, het vinnig uitgekring en ’n sneeubal-effek in die dorp gehad.

Daar is aanvanklik besluit om die zebra- en padstrepe van Houtstraat voor die skool ’n nuwe “verfbaadjie” te gee. Kort voor lank het dr. Ian van der Merwe op ’n  WhatsApp-groep gevra of daar dan nie sommer iets aan die slaggate in dié straat ook gedoen kan word nie.

AfriForum se Postmasburg-tak het moue opgerol en met die hulp van die buurtwag het die enkele projek in drie ontwikkel.

Benewens die verf van strepe van Houtstraat deur die YCAP-leerders en vrywilligers is daar ook 80 katogies op strategiese plekke op strategiese roetes in die dorp aangebring en 107 sakke “pre-mix” en 10 sakke sement is gebruik om slaggate te herstel. Sowat 110 liter verf is vir die padstrepe gebruik.

“Dit was inderdaad ’n bedrywige tyd vir AfriForum se Postmasburg-tak en dit was verblydend om te sien met hoeveel entoesiasme die YCAP-leerders asook lede van die publiek die verskillende take met ywer aangepak het.

“Dit alles is moontlik danksy ’n handjie vol mense wat bereid is om nederig in ’n gemeenskap te wees met die doel om verbetering en vooruitgang te bewerkstellig, sê Johan Britz, voorsitter van die tak.

Foto 1: Komiteelede van AfriForum se Postmasburg-tak, lede van Postmasburg se buurtwag, Hoërskool Postmasburg se YCAP-leerders en vrywilligers help met ’n projek om die dorp op te knap.

 

Soortgelyke plasings