--> -->
Spyskaart +

Politieke verandering kom nié in 2019 – inteendeel

Julie 20, 2018 deur Admin

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Die jongste data oor wat moontlik in volgende jaar se verkiesing gaan gebeur, is onlangs bekend gemaak. Volgens Ipsos se nuutste peiling – wat redelik geloofwaardig lyk, al is daar nogtans vrae oor hul metodologie – sal die ANC 60% van die steun trek. Die DA sal 13% kry en die EFF 7%.

Die ANC se steun is 2% minder as in 2014 se nasionale verkiesing, maar 5,5% hoër as in 2016 se plaaslike verkiesing. Ramaforie (die optimisme wat met pres. Cyril Ramaphosa se presidentskap en oudpres. Jacob Zuma se afstanddoening van mag gepaard gaan) is grootliks verantwoordelik vir hierdie toename in die ANC se steun. Die DA se binnegevegte en sekere uitlatings deur hul leiers het die DA duidelik seergemaak. Hulle het in 2014 sowat 24% van die steun gekry en sowat 27% in 2016. Die EFF se steun is effens beter as in 2014 en 2016.

Dit is als heel logies aangesien dit nie ’n vreeslike groot sprong vir die ANC voorspel nie. ’n Paar persentasiepunte meer is heel waarskynlik, aangesien Ramaphosa heelwat stedelike én plattelandse steun (veral mense wat bloot net nie in die Zuma-era gestem het nie) na die ANC kan terugbring en selfs nuwe stemme kan werf.

Hierdie syfers en scenario lyk egter nie goed vir die DA en die veelbesproke koalisieregerings waarop veral die grootste opposisieparty staatmaak nie. Die DA se 13% (teenoor die ANC se 60%) beteken koalisies raak in die algemeen bitter moeilik. Die Ipsos-data wys ook dat die DA se steun aansienlik in die Wes-Kaap en Gauteng gedaal het (in die res van die provinsies is die ANC buitendien ver voor). As die verkiesing vandag gehou word, sal die ANC die DA en almal anders maklik in Gauteng troef. In die Wes-Kaap het die ANC selfs nou ’n klein voorsprong bo die DA. Dit is logies as daar in ag geneem word dat die DA al heelwat steun in tussenverkiesings aan die ANC afgestaan het en groot interne probleme in die Wes-Kaap ondervind. In die Wes-Kaap is koalisieregerings wel moontlik in hierdie scenario, maar selfs daar gaan dit moeilik wees. Die DA kan heel moontlik sy volstrekte meerderheid daar verloor.

Die volgende vraag is wie nou eintlik saam met wie koalisies kan vorm. Die DA, met die hulp van die EFF en ander kleiner partye, regeer nou saam op talle plekke. Hierdie koalisies is egter uiters wankelrig en skep baie probleme. Die vraag is egter of die EFF hoegenaamd ’n opposisieparty is – en dit blyk nie so nie. Zuma is weg en hulle sal maklik nou weer saam met die ANC in die bed klim omdat dit hul eintlike heimat is. Die ANC se 60% (wat wissel van plek tot plek) en die EFF se 7% kan hulle saam ’n tweederdemeerderheid gee. Die EFF sal graag weer ordentlik wil regeer en toegang tot staatsposte hê, terwyl die vooruitsig van ’n tweederdemeerderheid vir die ANC byna onweerstaanbaar sal wees.

Ofskoon daar voor die verkiesing nog baie water in die see moet loop, lyk alle bogenoemde scenario’s en data baie waarskynlik en realisties. Selfs al kry die meer gematigde DA uiteindelik meer steun, is dit onwaarskynlik dat hulle noemenswaardig gaan groei.

Dit is dus nie net harde syfers wat tel nie. Die DA dink en praat toenemend soos die ANC en die dominante diskoers in die land is ’n linkse een met transformasie en regstelling as die hoekstene. Die drie groot partye is daarop ingestel om die meerderheid ten koste van minderhede te paai en die ANC en EFF is tot in hul kern korrup.

Die breë ideologiese rigting in die politiek is dus nie in minderhede, en veral Afrikaners, se guns nie. En met die ANC (wat saam met of sonder die EFF regeer) in beheer van die meerderheid van die land se munisipaliteite, provinsies en nasionale regering, gaan daar nie goedsmoeds ’n daling in korrupsie of ’n verbetering in regering plaasvind nie. Ramaforie het ook in Ramarealiteit verander soos die rand weer terugkeer na sy Zuma-vlakke, die brandstofprys die hoogte inskiet en die verwagte ekonomiese groei en werkskepping nie werklik realiseer nie.

Wat staan ’n minderheid dus in sulke omstandighede te doen? Ons het al 24 jaar van ANC-wanbestuur oorleef omdat ons besef dat ons juis nie van die staat afhanklik is nie, maar op onsself, ons gemeenskap en ons gesinne aangewese is. Diegene wat hul hoop op die staat en politieke messiasse geplaas het, het dalk toelae gekry, maar nie veel meer behalwe teleurstelling nie. Baie Afrikaners glo steeds dat dinge nou sal regkom omdat “die politiek gaan draai” en Ramaphosa die land sal red. Moenie onder illusies verkeer nie: Hy wil die ANC red en aan bewind hou; vir minderhede soos die Afrikaner voel hy nie veel nie. Die antwoord lê uiteindelik by onsself – soos dit nog altyd het en altyd sal.