Politieke skaakspel in Eskom kan SA in duister laat

AfriForum het ’n aansoek in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000) geloods om die dokumentasie rakende Brian Molefe se terugkeer na Eskom na te gaan. Dit volg ná bewerings dat Molefe nie heraangestel is nie, maar met onbetaalde verlof was.

“Iemand in Eskom – hetsy Molefe self, raadslid Lynne Brown of ander senior amptenare – draai die belastingbetaler ‘n rat voor die oë. Dit is in openbare belang om te weet wat die toekoms van Eskom inhou. Dié kragreus se skandale het reeds té veel van die publiek se vertroue geskend,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.

Dokumente wat versoek word, sluit die heraanstellingsooreenkoms en die aansoekproses in, asook enige ander mensehulpbrondokumentasie rakende die proses wat gevolg is.

“AfriForum wil probeer verstaan wat die werklike toedrag van sake tussen Eskom en Molefe is, en om dít te kan doen, moet ons die ooreenkoms vergelyk met die eedsverklarings wat tydens die DA se hofaansoek afgelê is. Indien daar teenstrydighede is, sal ons bedrogklagtes indien. Ons gaan ook ondersoek instel na bewerings deur die ANC dat die heraanstelling van Molefe op myneed neerkom.
“Kragdienslewering in Suid-Afrika is kritiek en ons kan nie toekyk hoe politici die land se kragvoorsiener gebruik om hulle eie politieke agendas te dryf nie,” sê Mostert.

Soortgelyke plasings