Spyskaart +

Polisienalatigheid by plaasmoorde dra by tot die probleem

September 17, 2014 deur Ernst Roets

20 Februarie 2012 het begin as ʼn gewone dag in die lewens van David en Bernadette Hall. Die Halls was besig om beeste op hul plaas, Buffelshoek, naby Fochville te melk. Daar is hulle deur vyf aanvallers oorrompel. Bernadette is vasgebind en met ʼn stomp voorwerp aangerand. David was minder gelukkig. Na ’n vuisgeveg met die rowers, wat net te veel vir hom was, was hy uiteindelik op sy knieë. Die grasperk buite die melkery is waar David sy laaste oomblikke beleef het.

Die gemeenskap was opgesweep en Lt.genl. Zukisa Mbombo, Kommissaris van Polisie in Noordwes, het gesê dat die polisie nie hulle soektog sal staak voor die verdagtes agter tralies is nie.

“Hy gaan nooit die voorreg hê om terug te staan en te sien wat hy met sy lewe gedoen het nie,” het Bernadette hierdie week by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gesê. “Hy gaan nie sien hoe sy kinders eendag trou nie en hy gaan nooit sy kleinkinders ontmoet nie.”

Wat erger is, is die feit dat die aanvallers steeds op vrye voet is en dat Bernadette hulle van tyd tot tyd sien. Die saak is nie deeglik ondersoek nie. Verskeie forensiese bewysstukke, waaronder ’n baadjie, sigaretstompies en die kabels waarmee Bernadette vasgebind was, is op die toneel gevind. Aanvanklik het die polisie dit nie gekonfiskeer nie, totdat hulle deur boere in die gemeenskap daaroor gekonfronteer is. Nie dat dit gehelp het nie …

Die aanvallers is vasgekeer en het in die hof verskyn. Daar kon die staat egter nie ’n saak teen hulle bewys nie omdat daar nie bewyse teen hulle was nie. Niemand weet nou wat geword het van die bewysstukke wat op die toneel gevind is nie. Feitlik die enigste bewyse wat daar teen die aanvallers was, was die feit dat Bernadette hulle tydens ʼn uitkenningsparade uitgeken het.

“Ek was daar. Ek het gesien hoe hulle my man vermoor. Ek weet wie hulle is,” het sy later gesê.” Die Halls se voertuig, waarmee die aanvallers gevlug het, is ook gevind, maar geen vingerafdrukke is op die voertuig geneem nie.

Uiteindelik is die saak nie uitgestel nie, maar die aanvallers is onskuldig bevind. As gevolg van die regsbeginsel autrefois acquit kan hierdie aanvallers ook nooit weer van dieselfde misdaad aangekla word nie, selfs al sou die bewysstukke skielik verskyn.

“Ek is soos ʼn krimineel behandel tydens die hofsaak. Dit was baie traumaties,” het sy verduidelik. Haar regte as slagoffer is nooit aan haar verduidelik nie. Niemand het haar gehelp om vir die verhoor voor te berei nie en in die hof is sy erg deur die aanvallers se regsverteenwoordigers aangeval en verneder.

Maar Bernadette is steeds op die plaas. “Waarom trek jy nie dorp toe nie?” vra een van die menseregtekommissarisse haar. “Om te boer is in my bloed,” antwoord sy. “Sedert ek ʼn klein dogtertjie was, het ek vir my ouers gesê ek wil ʼn boervrou word. Daar is niks wat die reuk van die reën en grond op die plaas kan vervang nie. ʼn Mens besluit nie eendag dat jy wil boer nie. Boere word gebore, nie gemaak nie.” En dan die dramatiese stelling: “Ek sal eerder op die plaas bly en vermoor word as om in die dorp te bly. Ek sal dit nie oorleef nie.”

Vandag is Bernadette aktief by AfriForum se veldtog teen plaasaanvalle betrokke. Sy ondersteun dit nie net nie, maar neem ook inisiatief en reël ook aksies van haar eie.

Dit is egter duidelik dat die polisie nie die enigste sondebokke in die stryd teen plaasmoorde is nie, maar dat die vervolgingsgesag net so skuldig is. Die SAMRK was erg deur Bernadette se verhaal gegrief. Sy is egter nie ’n uitsondering nie. Byna elkeen van die slagoffers met wie AfriForum in verbinding is, kla dat hulle sake nie opgevolg word nie, dat lêers en bewysstukke verdwyn, dat ondersoekbeamptes nie hulle fone antwoord of terug skakel nie en dat slagoffers soos misdadigers in die hof behandel word. AfriForum het onderneem om ’n aanvullende verslag in hierdie verband aan die SAMRK voor te lê.