|

Polisie bevestig wat almal reeds weet: Misdaad in Suid-Afrika is buite beheer

Die burgerregteorganisasie AfriForum het met groot kommer kennis geneem van Suid-Afrika se misdaadstatistieke vir die 2018/2019-finansiële jaar, wat vroeër vandag deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bekend gemaak is. Die toename in geweldsmisdaad en veral moord behoort niemand te verras nie nadat die weermag in die Wes-Kaap ontplooi moes word om die SAPD dáár te ondersteun, asook ná die SAPD se skokkende terugval voor ontstoke oproeriges in die Johannesburgse middestad net meer as ’n maand gelede. Die uitsonderings is moontlik Bheki Cele, minister van polisie, en president Cyril Ramaphosa, wat gewoonlik geskok en verras is deur feite wat lank reeds aan ander Suid-Afrikaners bekend is.

“Asof dít nie erg genoeg is nie, is die media deurtrek met negatiewe artikels oor die swak toestand waarin die SAPD sigself bevind. Hulle het meer as 9,5 miljoen rondtes ammunisie en 4 357 vuurwapens oor die afgelope ses finansiële jare verloor. Hulle is ook deur nasionale tesourie beveel om hul begroting oor die volgende drie finansiële jare met onderskeidelik 5% (R5 miljard), 6% (R6,5 miljard) en 7% (R7,8 miljard) te verminder. Boonop het hulle vyf verskillende nasionale kommissarisse oor die afgelope tien jaar gehad. Khehla Sithole, die huidige nasionale kommissaris, het selfs in die parlement erken dat die SAPD se mandaat oorbelas is en dat dit onmoontlik is om daaraan te voldoen,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum.

Gewone polisiebeamptes is daagliks slagoffers van ’n mislukkende regering en polisiediensbestuur. ’n Tekort aan ammunisie om hul vuurwapengeskiktheidsopleiding te voltooi, asook ’n tekort aan postverkragtingpakkies by polisiestasies is maar twee onlangse voorbeelde van hoe hul belangrike werk deur ’n onbesorgde, onbevoegde top- en departementele bestuur gekelder word. Dit behoort daarom geen verrassing te wees nie dat die aantal polisiereserviste – mense wat hul persoonlike tyd opoffer om die polisie te help – sedert 2010 van 63 592 tot 8 908 vandag afgeneem het.

“Met dít in gedagte het gemeenskappe geen ander keuse as om hulself in buurtwagte te organiseer om hulself te beskerm nie. AfriForum se 142 buurtwagte is goeie voorbeelde van hoe gemeenskappe hulself kan organiseer en met ander rolspelers – die SAPD op kantoorvlak inkluis – kan saamwerk om ’n veiliger omgewing en ’n vermindering in misdaad te verseker,” sluit Kamfer af.

Soortgelyke plasings