Plasing van Graad 1- en 8-leerlinge steeds nie opgelos nie


Die burgerregte-organisasie AfriForum het verneem dat ’n groot gedeelte van die leerlinge in Gauteng wat tot op hede nie plekke in skole gehad het nie, wel geplaas is.
Ongelukkig is daar steeds 3 366 leerlinge wat hoopvol wag op die geleentheid om iewers in dié jaar skool toe te kan gaan.

“Ons is baie dankbaar vir die groot aantal leerlinge wat wel geplaas is nadat die aanlynregistrasiestelsel en -proses weereens in 2017 baie kommer by ouers en skole veroorsaak het,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
“Ongelukkig is een leerling wat nie kan skoolgaan nie, een leerling te veel,” voeg Bloem by.
“Hierdie herhaalde probleem sal hok geslaan moet word. As stadsrade en provinsies vir demografiese groei kan beplan, waarom kan die onderwysdepartement nie ook nie?” vra Bloem.

Die 2018-skooljaar het hierdie jaar stormagtig begin nadat aanhoudende voorvalle by Hoërskool Overvaal onnodige polarisasie en spanning veroorsaak het as gevolg van ouers wat desperaat vir hul kinders plek in skole soek, terwyl die onderwysdepartement goed weet dat slegs die bou van ekstra skole verligting sal bring.
Volgens die Gautengse onderwysdepartement is daar hierdie jaar 176 702 leerlinge in Graad 1 en 141 842 leerlinge in Graad 8 geplaas.

Soortgelyke plasings