|

Plan vir nasionale gesondheidsversekering stuur op ramp af

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n omvattende veldtog teen die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) van stapel gestuur. Die veldtog sal aktivistiese aksies, bewusmaking en die insameling van openbare kommentaar insluit.

AfriForum staan die NGV teen omdat dit in wese daartoe sal lei dat die staat die hele gesondheidstelsel nasionaliseer en verbruikers en dokters se vryheid sal inperk. “Hoewel die wetsontwerp nie die privaatgesondheidsektor uitdruklik afskaf nie, gaan die verpligte belastingbydraes waarskynlik veroorsaak dat die middelklas nie mediesefondsbydraes sal kan bekostig nie. Dit  sal mediese fondse, die privaatgesondheidsektor en wêreldklas-gesondheidsorg vernietig, terwyl almal van staatshospitale afhanklik sal wees,” sê dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Volgens Brink sal die NGV veroorsaak dat die middelklas landuit vlug, terwyl die prysbeheer op fooie en medikasie mediese innovasie sal kortwiek en ook waarskynlik sal veroorsaak dat medici emigreer. “Dit sal veroorsaak dat daar nóg minder belastingbetalers gaan wees om hierdie onwerkbare skema aan die gang te hou, wat die koste eksponensieel sal laat toeneem.”

Medici en ekonome het ook ernstige bedenkinge oor planne rondom die NGV.

Kritici van die beoogde wetsontwerp meen die NGV gaan nie lede hê nie, maar eerder slagoffers.

Ekonome meen die gevolge van die NGV sal dieselfde wees met enigiets anders wat genasionaliseer word. Dit sal tot ’n verlaging in die gehalte van gesondheidsdienste lei, dienste sal ingekort word, daar sal legio geleentheid vir korrupsie en wanbesteding wees en in kort sal Suid-Afrikaners nie die gesondheidsorg kry waarop hulle geregtig is nie. Die armstes van die armes sal veral hieronder lei en nog minder toegang tot enige behoorlike dienste hê.

Suid-Afrika het tans reeds ’n ernstige tekort aan belastingbetalers én genoeg dokters en ander gesondheidspraktisyns. As die NGV ingestel word, gaan die toestand net verder verswak.

Die NGV-wetsontwerp is aan die einde van Junie vanjaar deur dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, in die Staatskoerant gepubliseer. Die publiek het 90 dae vanaf die datum van publikasie om daarop kommentaar te lewer.

Dit is van kardinale belang dat gewone mense ook hul stem moet laat hoor omdat dit in dié stadium voorkom asof gewone lede van die publiek nog nie heeltemal besef wat die impak van die veranderinge sal meebring nie.

AfriForum doen ’n dringende beroep op die publiek om hul insette by www.jougesondheid.co.za te gaan lewer om teen die verwoestende uitwerking wat die implementering van die NGV sal hê, kapsie te maak.

 

Soortgelyke plasings