|

Plan teen verwoestende brande in Wes-Kaap aangekondig

AfriForum het vandag ’n 8 punt-plan aangekondig om te help om ’n einde te bring aan die voortslepende vernietigende brande in die Wes-Kaap wat reeds enorme skade aangerig en tot angs en paniek gelei het.

In die afgelope tyd was daar tientalle veldbrande. Terwyl brandbestryders onverpoosd poog om die brande onder bedwang te bring, het die vermoede nou ook by gemeenskappe ontstaan dat van die brande opsetlik gestig word. Dit word ook vererger weens erge winde.

Thomas van Dalen, provinsiale woordvoerder van die Wes-Kaap, het gesê indien dit wel brandstigting is, is dit ’n strafregtelike oortreding en moet die skuldiges aan die pen ry.

Volgens Van Dalen het AfriForum reeds verskeie klagtes van bekommerde en paniekbevange inwoners gekry. Om dié rede is die 8 punt-plan aangekondig wat die volgende behels:

  1. Sluit by ʼn plaaslike AfriForum-tak aan en stig ʼn buurtwag wat hierdie soort kriminele optrede kan monitor en skuldiges kan aankeer.
  1. Die AfriForum-buurtwag sal ondersteuning van hoofkantoor ontvang wat voorsiening maak vir mediese versekering vir die AfriForum-buurtwaglid, hulp met die opstel van ’n noodplan vir die dorp, die aankoop van ’n vuurvegter, noodhulpopleiding vir die plaaslike AfriForum-struktuur en die vestiging van infrastruktuur soos radio’s om die gemeenskap te help mobiliseer tydens ’n brandkrisis.
  2. Booswigte en brandstigters se optredes moet onmiddellik by die plaaslike polisiestasie aangemeld word sodat hulle vervolg kan word.
  3. Lede van die gemeenskap moet nie onbevestigde gerugte en boodskappe versprei wat onnodig paniek saai nie.
  4. Gemeenskappe moet betrokke raak by plaaslike veiligheidsinisiatiewe.
  5. Wetstoepassers moet in die uitvoering van hulle pligte ondersteun word.
  6. Vind uit wat die brandindeks binne jou area vir die betrokke dag is.
  7. Verseker dat die nodige brandbestrydingstoerusting op jou perseel beskikbaar is.

Van Dalen het gesê mense moet begin betrokke raak by gemeenskapsinisiatiewe en eienaarskap neem van krisisse in hulle dorp. “Hierdie is nie die laaste krisis waarmee gemeenskappe gekonfronteer gaan word nie.”

Dorpe wat onder meer deur die brande geraak word, sluit in Paarl, Wellington, Somerset-Wes, Kleinmond, Clanwilliam, Stilbaai, Tulbagh, Riversdal, Grabouw en gebiede rondom die Overberg en Duiwelspiek.

Meer as 200 brandbestryders is betrokke by pogings om ’n einde aan die ramp te bring. Helikopters is ook in van die gevalle gebruik om water te gooi.

Lede van die gemeenskap wat ʼn plaaslike veiligheidsnetwerk wil stig, kan ’n epos stuur na thomas@afriforum.co.za

Soortgelyke plasings