Plaasaanvalslagoffers deel hul stories met internasionale media


Die burgerregte-organisasie AfriForum se gemeenskapsveiligheidspan het op 6 November 2018 saam met ’n Franse radiostasie, Radio France Internationale (RFI), ’n plaasaanvalslagoffer besoek om oor plaasaanvalle en grondbesetting in Suid-Afrika te gesels.

David Baché van RFI het ’n onderhoud met Ian Cameron, AfriForum se nasionale hoof van gemeenskapsveiligheid, en Bernadette Hall gevoer. Hall se man David is tydens ’n plaasaanval aangerand en doodgeskiet en sy self is onder meer met ’n panga aangeval.
By ’n ander geleentheid het die gemeenskapsveiligheidspan saam met Reuters, ’n internasionale media-agentskap, by Jan Scheepers (79) en sy vrou Suzie (78) – wat wreed op hul plaas buite Koster aangerand is – besoek gaan aflê.

Scheepers het aan Reuters se joernalis vertel hoe die aanvallers aanvanklik die sitkamervenster se diefwering afgebreek het. ’n Geslote veiligheidshek het die aanvallers forseer om deur ’n ander venster toegang tot hom en sy vrou te kry. “Ons is doof, so ons het hulle nie gehoor inkom nie. Toe ons wakker skrik, het hulle reeds langs my gestaan. Ek is toe met ’n yster oor die kop geslaan. Verder kan ek niks onthou nie.”
“Hierdie is sterk mense, met sterk woorde! Ons kan nie toelaat dat hulle eenvoudig deel van die statistiek word nie. Dit is belangrik dat slagoffers hul stories oor plaasaanvalle vertel en die wreedheid daarvan beklemtoon. Ons moet internasionale dekking kry sodat sowel bewustheid rondom die erns van die saak as die realiteit van plaasaanvalle by mense sal insink. Daar was vanjaar reeds ongeveer 366 plaasaanvalle en 49 plaasmoorde in Suid-Afrika,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid in die noordstreek.
Toe Reuters se joernalis vir Jan Scheepers vra of hy ’n boodskap vir President Ramaphosa het, antwoord hy: “Who am I to tell my President what to do? I can only ask him to look after all of us – including white people.” ’n Diepbewoë Scheepers sê dat hulle eenvoudig net kan bid dat God hulle sal beskerm en dat soortgelyke voorvalle nie weer in hul omgewing sal plaasvind nie. “Ons het darem die aanval oorleef – baie ander boere is nie so gelukkig nie en word wreed vermoor,” vertel Scheepers.
“Die staat versuim hul pligte om slagoffers te beskerm. Dus moet alternatiewe oplossings oorweeg word om gemeenskappe in samewerking met die owerhede te beveilig. Dít is die hoofrede waarom AfriForum buurtwagte stig. Daar is tans 126 aktiewe buurtwagte landwyd met meer as 7 000 patrolleerders,” sluit Coetzer af.

AfriForum moedig gemeenskappe aan om by plaaslike veiligheidsinstansies betrokke te raak en die weerbaarheid van gemeenskappe op te skerp.

Soortgelyke plasings