Plaasaanvalle in die Wes-Kaap neem toe


Drie plaasaanvalle het tussen 23 en 26 November 2018 in die Wes-Kaap plaasgevind, onderskeidelik in die Porterville-, Paarl- en Wellington-omgewing.

Die woorde “Kill the boer”, “Viva Juju” en “Viva EFF” is ses weke voor die Porterville-aanval met spuitverf op die plaashuis se deur geskryf. Brandstof is ook oor een van die gesinslede uitgegooi, terwyl ’n ander een seksueel aangerand is.

“Plaasaanvalle in die Wes-Kaap is besig om toe te neem – ons is reeds bewus van sewe sulke aanvalle in die Wes-Kaap wat in November 2018 plaasgevind het, maar gelukkig is geen moorde gepleeg nie,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek.

AfriForum is landwyd betrokke om hulp, bystand en ondersteuning aan gemeenskappe te verleen en maak werk daarvan om hierdie gemeenskappe in staat te stel om hulself binne die raamwerk van die wet te organiseer.

“Ons moedig mense – veral diegene in afgeleë gebiede en die platteland – aan om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem en dit te bewerkstellig deur plaaswagte te stig. Ons beweeg al nader aan die feesseisoen en wil graag ’n beroep op mense doen om hul paraatheid gedurende hierdie tyd op te skerp,” sluit Van Zyl af.

SMS “Plaaswag” na 45353 (R1) om by een van AfriForum se veiligheidsnetwerke in te skakel.

Soortgelyke plasings