Phokwane Plaaslike Munisipaliteit betaal AfriForum-regskoste


Die Phokwane Plaaslike Munisipaliteit het die burgerregte-organisasie AfriForum se regskoste ten bedrae van R265 000 betaal soos in 2016 deur die Noord-Kaapse hoë hof in Kimberley gelas. AfriForum het sy regspan op 8 Februarie 2017 opdrag gegee vir die uitreik en tenuitvoerlegging van ’n lasbrief vir eksekusie van die invordering van hierdie koste.
Dít volg nadat AfriForum ’n kostebevel teen die munisipaliteit in ’n hofgeding bekom het wat die munisipaliteit verplig het om onregmatige elektrisiteitstariewe reg te stel. Hoewel hierdie tariewe slegs deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) vasgestel kan word, wil dit voorkom asof munisipale amptenare hulle nie aan hierdie reël steur nie.

“Die munisipaliteit is onlangs onder nuwe bestuur geplaas. Ons het reeds ’n vergadering met me. Mogale, munisipale bestuurder, gehad en dit was positief van aard. Die feit dat sy die saak as belangrik beskou, skep ’n goeie indruk van haar,” sê Theo Joubert, voorsitter van AfriForum se Vaalharts-tak.
“Ons is dankbaar dat die saak so ver gevorder het en is positief ingestel ten opsigte van toekomstige samewerking met die munisipaliteit,” sê Linja van Wyk, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

Ondersteun AfriForum se regsaksie: SMS “Lasbrief” na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings