Persombudsman bevind dat News24 aan AfriForum verskoning moet vra


Johan Retief, die persombudsman, het bevind dat News24 aan AfriForum verskoning moet vra vir ’n growwe skending van die perskode met betrekking tot AfriForum. Die persombudsman het hierdie bevinding gemaak nadat AfriForum ’n formele klag ingedien het oor ’n opiniestuk wat Pieter du Toit, assistentredakteur van News24, oor AfriForum geskryf het.
Du Toit het op 7 September vanjaar ná afloop van AfriForum se parlementêre voorlegging oor onteiening sonder vergoeding ’n aanvallende artikel oor AfriForum gepubliseer, waarin hy onder meer aanvoer dat AfriForum “nie ’n enkele oplossing” met betrekking tot die debat oor onteiening sonder vergoeding voorgestel het nie. AfriForum se geskrewe voorlegging het egter ’n lys van voorstelle gegee. Boonop het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, wat die voorlegging namens AfriForum behartig het, in geen onduidelike terme ’n lys van agt oplossings tydens dié sessie voorgehou.
Dit is die tweede keer in ’n jaar dat die persombudsman Du Toit beveel om aan AfriForum verskoning te vra weens ernstige skendings van die perskode, wat met betrekking tot AfriForum as fopnuus beskryf kan word.

Roets sê dat AfriForum onwrikbaar tot persvryheid verbind is en dat die media ’n kardinale rol in ’n demokratiese samelewing speel. “Joernaliste soos Du Toit – wat geen geheim daarvan maak nie dat hulle ’n persoonlike veldtog dryf en hul posisies misbruik om eie agendas te bevorder – skend egter die goeie reputasie van die media,” sê Roets.

Roets sê dat AfriForum aktiviste soos Du Toit as uitsonderings beskou, maar dat die organisasie ook ’n beroep op joernaliste doen om hul kollegas tot verantwoording te roep wanneer hulle die beroep skade berokken deur persoonlike agendas te dryf.

Soortgelyke plasings