|

Paul Kruger-standbeeld met verf getakel. Erfenisbewaring is op Saterdag se beraad-agenda

Die Paul Kruger-monument op Kerkplein in Pretoria het pas onder vandale deurgeloop nadat die Paul Kruger-beeld in Krugersdorp vroeër vanjaar met verf bemors en beskadig is.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die jongste beskadiging van die Boerekrygers wat deel van die monument uitmaak, ’n groot teleurstelling en ’n aanduiding dat die Tshwane-metroraad nie sy onderneming gestand doen om die monument te bewaak nie. Dié Boerekrygers is met groen verf getakel, terwyl die EFF onlangs gedreig het om die hele monument af te breek.

Sy het gesê klagtes sal in die verband deur AfriForum by die betrokke owerhede gelê word.  AfriForum het bygedra tot ʼn fonds wat die Erfenisstigting bestuur en gebruik om die restourasie van geskende monumente, soos in dié geval, te onderneem.  Die stigting word deur AfriForum vir hulle uitnemende werk in hierdie verband geloof.

Bailey het gesê  die uitbeelding van ʼn gemeenskap se verlede speel ʼn vername rol in die verhouding wat dit met ander gemeenskappe in ʼn gedeelde omgewing handhaaf.

“Dr. György Tatár van die Boedapest Sentrum vir die Internasionale Voorkoming van Volksmoord en Massa Gruweldade het in 2014 in ʼn voorlegging aan die VN se Minderheidsforum beklemtoon dat die verdraaide uitbeelding van ʼn volk se verlede direk kan bydra tot die pleging van geweld daarteen.  Dit is dus van die allergrootste belang dat alle gemeenskappe se erfenis bewaar word en in konteks uitgebeeld word.”

Sy het gesê AfriForum sal deurgaans sy fokus verskerp om ʼn kultuur van wedersydse erkenning en respek te bevorder deur vir almal se erfenis en standpunte ruimte te skep. Daar moet verhoed word dat die huidige erfenisdebat misbruik word om ’n transformasie-agenda te dryf.  Daar moet verseker word dat Afrikaner-erfenisse in historiese konteks geplaas en volhoubaar beveilig word.

“Die toekoms van die verlede is in ons hande en kan nie aan ideologies gedrewe kultuur-terroriste met verfblikke oorgelaat word nie,” het Bailey gesê.

Meer inligting oor die beplande erfenisbewaringsaksies van AfriForum en ander instellings wat deel van die Solidariteit Beweging is, sal Saterdag by die Toekomsberaad in Pretoria aangekondig word.

Van die aksies sluit in regstappe teen individue en instellings wat erfenishulpbronne beskadig, AfriForum-takke en die FAK wat by plaaslike bewaringsprojekte betrokke raak en skenkings aan geloofwaardige instansies vir die restourasie van gevandaliseerde gedenkwaardighede.

Nog ’n moontlikheid wat ondersoek sal word, is om museumkunde as studierigting te laat herleef.

 

 

Soortgelyke plasings