|

Parys se drinkwater verbeter, maar AfriForum steeds bekommerd

Die drinkwatergehalte van Parys het effens verbeter nadat AfriForum ’n dringende brief gerig het aan Bruce Kannemeyer, die munisipale bestuurder van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit. AfriForum is in kontak met ’n inwoner wat gereeld watertoetse doen en met sy jongste toetse dié verbetering opgemerk het. Dit is egter nog glad nie geskik vir menslike gebruik nie en die gemeenskap word steeds gewaarsku om nie kraanwater te drink sonder om dit vooraf te kook of te suiwer nie.

Hoewel die kantoor van die munisipale bestuurder ontvangs van AfriForum se vorige skrywe bevestig het, het hulle nie op dié skrywe gereageer nie. Dit blyk egter dat hulle wel iets aan die drinkwatergehalte gedoen het. AfriForum het daarom weer ’n skrywe gerig om die munisipaliteit se samewerking te versoek.

“Ons sal nie ophou om druk op die munisipaliteit te plaas oor die gehalte van die drinkwater in Parys nie – elke inwoner het die reg tot skoon drinkwater. Ons is bereid om saam met die munisipaliteit na ’n oplossing te soek, maar dan wil ons reaksie van hulle kant af kry. Ons sal die probleem graag in der minne wil skik, maar sal ook nie skroom om die regsroete te volg indien nodig nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Soortgelyke plasings