|

Partye en organisasies wys op rampspoedige gevolge van onteiening sonder vergoeding

Die oorweldigende steun van die ANC en EFF vir ’n mosie in die parlement wat die bal aan die rol gesit het vir grondonteiening sonder vergoeding, hou ’n fatale bedreiging in vir die grondwetlike ooreenkoms wat in 1994 bereik is.

Dave Steward, verbonde aan die FW de Klerk-stigting, het vandag by ’n blitskonferensie van AfriSake in Centurion gewaarsku oor wat die gevolge vir wit én swart in die land sal wees as die mosie tot die wysiging van die Grondwet lei wat voorsiening vir onteiening sonder vergoeding sal maak.

“Dit is nie net ’n bedreiging vir wit boere nie, maar vir elke individu in die land. Daar sal geen beskerming vir enigiemand met eiendom, besighede of aandele wees nie. Ook die 7,5 miljoen swart mense wat hul eie huise besit en waarvan die totale waarde baie meer as van al die landbougrond is, sal nie enige beskerming geniet nie.”

Hy het gewaarsku en gesê mense moet onthou wat in Zimbabwe gebeur het. Onteiening sonder vergoeding sal op ’n krisis en ramp afstuur. As die Suid-Afrikaanse ekonomie in duie stort sal daar ook nie meer vir die miljoene mense wat hul tot die land gewend het om te werk en te oorleef ’n heenkome wees nie. In Zimbabwe het onteiening sonder vergoeding uiteindelik tot ’n werkloosheidskoers van 90% gelei.

Steward het gesê met dié mosie is “Suid-Afrika gesluit vir besigheid. Dit is heeltemal in teenstelling met wat pres. Cyril Ramaphosa onlangs in Davos (Switserland) gesê het. Ons wil vir (pres.) Ramaphosa sê ons slaan nie oorlogstromme nie en ons saai nie paniek nie, maar die Suid-Afrikaanse gemeenskap is diep bekommerd oor waarop die land afstuur.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê uit die teenwoordigheid van die wye verskeidenheid organisasies en opposisiepartye, is dit duidelik dat onteiening sonder vergoeding rampspoedige gevolge vir die land en ál sy mense sal inhou.

Hy het gesê mense moet besef dat die ANC en EFF met die mosie nie meer praat oor herverdeling nie, maar eerder nasionalisering en die wegneem van eienaarskap bedoel.

Buys het gesê in die komende weke sal die betrokke organisasies en rolspelers bymekaar kom sodat aksies en optrede teen onteiening sonder vergoeding gekoördineer en verskerp kan word. Die aksies sluit in bewusmaking van eiendomreg onder alle gemeenskappe, gesprekke met die regering en Ramaphosa, moontlike regsoptrede, samewerking met buitelandse beleggers en ander rolspelers oorsee, vennootskappe tussen groepe om eiendomsreg te beskerm, beskerming van boere teen wie aanvalle sedert die begin van die jaar toegeneem het, protesoptrede teen onteiening sonder vergoeding en die beskerming van pensioenfondse wat ook hierdeur in gedrang kan kom.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, meen met die aanvaarding van die omstrede mosie, is dit duidelik dat ’n nuwe politieke landskap aan die ontvou is. “Voorgenome beleide en wetwysigings wat vroeër aan die absurde gegrens het, beweeg nou na hoofstroomdenke. Dit vereis nuwe en daadwerklike optrede om dit teen te staan.”

Van die organisasies wat aan die konferensie deelgeneem en baie sterk standpunte teen onteiening sonder vergoeding ingeneem het, sluit in die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), AfriForum, die FW de Klerk-stigting, die Vryemarkstigting, TLU SA, AgriSA, die Helen Suzman-stigting, die FAK, die VRA, die DA, die VF+ en die ACDP.

Soortgelyke plasings