|

Panyaza Lesufi moet nóú gekeer word

AfriForum het vanoggend ’n memorandum aan David Makhura, Gautengse premier, oorhandig waarin die kop van Panyaza Lesufi, provinsiale LUR vir onderwys, geëis word. Strafregtelike klagtes oor wanbesteding is ook teen Edward Mosuwe, hoof van die Gautengse onderwysdepartement, by die SAPD ingedien.

Die Gautengse onderwysdepartement het die afgelope jare berug geword vir die wyse waarop Lesufi en ander senior amptenare die departement bestuur en die talle ondeurdagte besluite wat geneem is wat nie in belang van onderrig of leerders in die provinsie is nie.

Henk Maree, woordvoerder van AfriForum, sê dit is ’n skande dat die premier toelaat dat Lesufi steeds sy amp beklee ondanks die skade wat hy die Gautengse onderwysstelsel en verhoudinge in die land reeds aangedoen het.

“Die skoletoelatingsproses is chaoties en hy aanvaar nie aanspreeklikheid vir sy aandeel daaraan nie ‒ inteendeel, sy jongste aankondigings van sogenaamde oplossings vererger die situasie net verder aangesien dit onuitvoerbaar is en ouers van die reg ontneem om self oor die plek, gehalte en taal van hulle kinders se onderrig te besluit.”

Monique Taute, hoof van die teenkorrupsie-eenheid by AfriForum, sê die ouditeur-generaal se 2017/2018-verslag het bevind meer as R900 miljoen se onreëlmatige uitgawes is die afgelope boekjaar deur die onderwysdepartement aangegaan. “Dit is onaanvaarbaar dat ’n departement wat daarop toegespits behoort te wees om die jeug van ons land op te lei, massiewe bedrae soos hierdie wanbestee.

“Lesufi moet verduidelik waarom sy departement volgens hierdie verslag skuldig is aan die wanbesteding van belastingbetalers se geld wat daarvoor bedoel is om kinders te onderrig,” sê Taute.

Carien Bloem, hoof van onderwys by AfriForum, sê optrede om van Lesufi ontslae te raak, kan nie langer uitgestel word nie. “AfriForum word oorval met versoeke van ouers wat genoeg van sy kleitrappery met die huidige plasingsproses gehad het. Hulle is keelvol vir sy wangedrag en polariserende uitsprake.”

Van die klagtes wat ouers met die skoleplasingsproses het, is dat kinders van een gesin nie in dieselfde skool geplaas is nie, dat kinders nie geplaas word by die skole van hul keuse nie, dat hulle nie plek kry in skole naaste aan hul huise nie en dat gr. 1’s geplaas word in ander skole as waar hulle gr. R voltooi het.

AfriForum het Lesufi en die departement reeds herhaaldelik gewaarsku dat dié stelsel nie werk nie.

Ander klagtes teen hom wat in die memorandum vervat is, sluit in:

  • Sy weiering om op te tree teen die voortdurende inmenging van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) by openbare skole;
  • Sy herhaalde minagtende uitsprake oor Afrikaans en Afrikaans as onderrigtaal;
  • Sy rassistiese uitsprake wat gemeenskappe in die land polariseer; en
  • Wanbesteding en korrupsie in sy departement.

Bloem sê dit is duidelik dat Lesufi se fokus nie op onderwys of die verbetering van sukkelende skole is nie. “Hy is te besig om politieke speletjies te speel, terwyl hy eerder swak presterende skole moet regruk.”

Verskeie van AfriForum se afdelings staan gereed om met regstappe teen Lesufi te begin. Verder skep die organisasie ook vir die publiek, veral die ouers van leerders wat deur die plasingsproses geraak word, die geleentheid om aan die veldtog wat sy afdanking eis, deel te neem.

Hulle kan hul stem voeg by ’n aanlyn-petisie wat vandag begin by  www.afriforum.co.za/lesufimoetval

 

Soortgelyke plasings