--> -->
Spyskaart +

Padkaart na ondergang

Maart 7, 2018 deur Flip Buys

Die linkse padkaart na ondergang

Dit is teen hierdie tyd vir die meeste mense duidelik dat die ANC die land nie kan regeer nie. Wat egter minder duidelik is, is die hoofrede vir dié onvermoë. Uiteenlopende redes word vir ANC-mislukkings voorgehou, wat wissel van sy leiers se onvermoë tot apartheid!

Maar die grondoorsaak van die regeringsgedrewe landsverval is dat hulle ideologies nie in staat is om die land suksesvol te regeer nie. Dis nie dat hulle nie wíl nie – hulle kán nie, omdat hulle ’n onwerkbare ideologie navolg.

Daar is belangrike lesse te leer uit ’n studie van die padkaart na ondergang wat linkse regerings histories gevolg het.

Tien mylpale op die padkaart na ondergang

1.Ideologiese godsdiens  

Die reis na mislukking begin met ’n linkse ideologie wat die beste bedoelings het om ’n beter lewe vir almal te skep. Ware sosialiste is só oortuig van hul saak dat dit in die praktyk eerder ’n politieke godsdiens as ’n politieke filosofie is. Dit is waarom die talle mislukkings van dié ideologie nie tot ’n grondige herbesinning lei nie en dieselfde foute weer en weer gemaak word. Hulle klou vas aan Marx se siening dat sosialisme die finale fase van historiese ontwikkeling is, wat onafwendbaar volg nadat die primitiewe, slawe-, feodale en kapitalistiese eras misluk het. Daarom sien hulle sosialisme as die mees ontwikkelde en gevorderde ideologie, wat vir altyd ’n einde wil bring aan menslike swaarkry wat deur voorafgaande onmenslike stelsels veroorsaak is. Alle ongelykheid word as verontregting gesien, met opstand en gelykmaking as die oplossing. Marx se voorskrif oor die kortpad na sosialisme word vandag nog net so luid soos die Evangelie verkondig: veg eers vir demokrasie en gebruik dán die politieke mag om die ekonomiese mag deur die instelling van sosialisme te vekry.

Vir sosialiste is Marx die Messias; Lenin is Paulus; Das Kapital is die Bybel; die uiteindelike sosialistiese werkersparadys is die hemel; demokrasie is die eerste stap na sosialistiese saligheid; kapitaliste is die duiwel; die ongelykheid wat privaat besit meebring is die sonde; die party is die Kerk; party-amptenare is die priesterorde; andersdenkendes die ketters; die konsentrasiekamp is die hel; en die klassestryd verteenwoordig die stryd tussen goed en kwaad. Die belangrikste kenmerk van sosialisme is dat dit ’n aggressiewe ideologie is waar teenstand tot ’n “heilige” oorlog kan lei en waar die utopiese einddoel die uiterste metodes regverdig.

Die belangrikste rede vir die mislukking van hierdie ideologie is dat dit in wese ’n opposisie- en struggle-ideologie is en nie ’n “regeerideologie” wat moderne, uitgewerkte regeerinstrumente ontwikkel het nie. Die vereistes vir ’n suksesvolle oorname van ’n land bots ongelukkig reëlreg met die vereistes wat nodig is vir die suksesvolle regeer van die land.

2. Hemel op aarde

Sosialiste wil nie net die werklikheid verbeter nie; hulle wil dit grondliggend herskep. Daarom kan die ou orde nie net hervorm word nie; dit moet omvergewerp en van nuuts af herbou word. Hierin lê die grondoorsaak van die mislukking van linkse omwentelings: té veel, té vinnig, té radikaal – en boonop in die verkeerde rigting.

3. Groot staat

’n Belangrike oorsprong van die historiese geskil tussen links en regs is die grondliggende verskil in die siening oor die rol van die mark teenoor die staat. Waar ondersteuners van die vrye mark die wil van alle vrye mense om hul lewens te verbeter as die sterkste enjin van ontwikkeling sien, glo aanhangers van staatsbeheer dat ’n groot en sterk staat hiervoor verantwoordelik is. Daarom skep die politiek verwagtings waaraan die staat en die ekonomie nie kan voldoen nie. Opstande oor swak dienslewering, gevolg deur dieselfde onwerkbare “omkeerstrategieë”, is kenmerkend van hierdie siklus.

4. Groot planne

Vryheidsliewende state se doelwitte is hoofsaaklik beperk tot die beskerming van hul burgers se regte, soos lewe, eiendom en persoonlike vryheid. Die kern van hierdie stelsels gaan dus daaroor dat die staat so min as moontlik moet doen.

Linkse state staan direk hierteenoor omdat hulle weer soveel moontlik vir hul burgers wil doen. Hierdie state beklemtoon sosioëkonomiese menseregte, wat ook in die Suid-Afrikaanse Grondwet opgeneem is.

Die probleem is dat daar ’n direkte teenstelling tussen hierdie twee groepe regte is. Die eerste groep regte beperk die staat se mag en beklemtoon die vryheid van die burger, terwyl die tweede groep regte die staat se mag vergroot deur ’n plig op die staat lê om meer vir die burgers te doen. Die spanning tussen hierdie twee groepe regte en die ondersteuners daarvan in lande met groot ongelykhede word só groot dat dit nie lank saam kan bestaan nie. Eiendomsreg en die oppergesag van die reg kan byvoorbeeld nie saam met ‘n welsynstelsel en die herverdeling van welvaart voortbestaan nie.

5. Magsbalans bepaal spoed

Die internasionale en Suid-Afrikaanse magsbalans tydens die Kodesa-onderhandelinge van die 1990’s was nie ten gunste van die ANC nie. Daarom moes hulle noodgedwonge toegewings maak om die mag te kry. Noudat die internasionale en Suid-Afrikaanse magsverhoudinge verander het, gebruik hulle egter die mag om hul oorspronklike doelwitte te verwesenlik.

6. Nasiebou

Die linkse staat eis alle lojaliteite jaloers op en glo dat die nasionale eenheid ondermyn word deur demokratiese ruimtes vir die vryheid van persone, volke en kultuurgroepe, die media en die regbank. Daarom is die klem daarop om almal by die “staatsnasie” in te lyf. Daar word aktief gewerk om verdelingslyne soos tale en kulture uit te vee en nasionale eenheid te beklemtoon – in die naam van gelaaide woorde soos insluiting en inklusiwiteit.

Uiteindelik moet minderhede veg vir die basiese regte en vryhede wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar, en word hulle gereeld in die naam van demokrasie verontreg en selfs onderdruk.

7. Groot mislukkings

Die groot planne van linkse regerings lei feitlik sonder uitsondering tot groot mislukkings. Die gaping tussen wat die regering wíl doen en wat die staat kán doen, word ál hoe groter omdat die regering die staat se uitvoerende vermoë terselfdertyd deur beleidsrigtings soos verteenwoordigendheid ondermyn en afbreek. Die oorlading van die staat en die oorskatting van die mag en vermoë van die staat om feitlik enige probleem op te los, is kenmerkend van totalitêre ideologieë. Die burgery wil naderhand eerder stem vir ’n lewe as om vir een te werk.

8. Meer mag, minder vryheid

Die staat moet meer en meer mag en hulpbronne sentraliseer om sy groot agenda te kan uitvoer. Dit vereis dat die staat al meer in die vryhede van sy burgers, die ekonomie, die reg en die media moet inmeng. Daardeur word die demokrasie en politieke mag juis die werktuig om die burgers se vryheid te ondermyn en lei die proses algaande tot groter verontregting en later oorheersing.

9. Onderdrukking deur demokrasie

Voordat die Westerse liberale demokrasie die algemene wêreldstandaard geword het waaraan almal moes voldoen, kon outokratiese en totalitêre regerings hul burgers makliker hardhandig onderdruk. Deesdae moet selfs onderdrukkende regerings soos dié van Zimbabwe voorgee om demokraties te wees – met verkiesings en al. Demokrasie word dus ’n werktuig van onderdrukking in plaas van ’n stelsel wat vryheid vir almal moes bring.  

10. Van onderdrukking tot verval

Die innerlike teenstellings van die stelsel word uiteindelik só groot dat dit eenvoudig nie meer werk nie. Die staat begin stuk vir stuk, dorp vir dorp en diens vir diens verval; mense kom al sterker in die naam van swak dienslewering daarteen in opstand; die veiligheidsmagte moet al meer magte kry om al fermer in te gryp om gewelddadige opstande te keer; verontregting begin algemeen plaasvind; die burgery se vryhede word al meer beperk; armoede, werkloosheid en ellende neem krisisafmetings aan; en gaandeweg neem die staat al meer en groter beheer totdat dit in volskaalse onderdrukking en algemene armoede eindig. Die linkse planne om hemel op aarde te skep, eindig in hel op aarde.

Die belangriker vraag is wat daaraan gedoen kan word, en hoe Westerlinge en Afrikaners wat nie saam oor die afgrond wil val nie uit hierdie krisis kan kom.