|

Ouers moet opstaan om Afrikaans in skole te behou

Die aanslag op enkelmedium Afrikaanse skole is besig om benewens Gauteng ook na ander provinsies uit te brei.

Oproerige ANC-jeugdiges het gister na die Hoër Tegniese Skool Middelburg in Mpumalanga opgeruk waar hulle eise gestel het dat die skool na dubbelmedium moet verander.

Die groep het ’n memorandum aan verteenwoordigers van die provinsiale onderwysdepartement oorhandig waarin hulle onder meer gesê het dat weggedoen moet word met die taal- en toelatingsbeleid van Afrikaanse skole. Hulle eis dat die skole meer toeganklik vir almal in die dorp en omliggende gebiede moet wees.

Van die protesteerders het plakkate rondgeswaai met slagspreuke soos Afrikaansmustfall en Feesmustfall.

Die jeugdiges het gedreig dat hulle skole onregeerbaar sal maak as taal- en toelatingsbeleide nie verander nie. Hulle meen skole moet die demografie van die land weerspieël, terwyl die regering ook dringend aandag aan die infrastruktuur by townshipskole moet gee.

Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, het gesê dit is duidelik dat dit nie meer net Afrikaanse skole is wat in Gauteng deur Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, geteiken word nie.

Die Laerskool Staatspresident CR Swart in Middelburg is ook in die jeugdiges se visier om sy taalbeleid te verander. Hulle het ook kapsie gemaak teen die behoud van die skool se naam wat volgens hulle na ’n apartheidsleier vernoem is.

“Dit is onaanvaarbaar dat Afrikaanse skole nou ook in ander provinsies geteiken word. Ons kan nie toelaat dat Afrikaans as moedertaal uit Afrikaanse enkelmedium-skole geneem word nie.

“Die departement van basiese onderwys moet besef Afrikaans is nie die probleem nie, maar die swak gehalte van onderrig in bykans 80% van die land se disfunksionele skole.

“Dit gaan nie help om die handjievol suksesvolle skole te infiltreer en te ondermyn en Afrikaans die skuld vir al die probleme te gee nie,” meen Bloem.

Sy het gesê die krisis in Afrikaanse skole het AfriForum genoop om met ’n intensiewe protesveldtog te begin om Afrikaanse skole te red. “Ons doen ’n dringende beroep op ouers om hul skole en die veldtog te ondersteun en ’n stokkie voor die ANC se planne te steek om alle skole te verengels.”

Om die veldtog te steun kan die petisie hier teken of deur jou naam en SKOOL te SMS na 45113. SMS kos R1.

Bloem het voorts gesê AfriForum sal skole bystaan wat dreigemente van die departement kry om hul taalbeleid eensydig te wysig.

 

Soortgelyke plasings