|

Ouers gemaan om leerlinge betyds vir 2020 in te skryf ná Lesufi se ingrypende regulasies

Dit is lankal geen geheim dat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, sy mes vir Afrikaanse skole en dié onderwysgemeenskap in het nie. Die gewraakte regulasies wat hy onlangs vir toelating goedgekeur het, versterk net die persepsie en plaas enorme druk op ouers om betyds vir hul kinders by skole aansoek te doen.

Die nuwe regulasies bepaal dat:

  1. Die departement verantwoordelik is vir die administrasie van die toelating van leerlinge tot ’n skool.
  2. Die toelatingsbeleid, wat deur die beheerliggaam van die skool bepaal word, nie strydig met die nuwe regulasies mag wees nie.
  3. Die departement die finale gesag het om ’n leerling tot ’n skool toe te laat.
  4. Die toelatingsbeleid nie teen ’n leerling mag diskrimineer op grond van etnisiteit, kultuur, ras, taal, geloof of die openbaarmaking van siektes soos MIV/Vigs nie.
  5. Leerlinge wie se ouers nie skool- of registrasiegeld kan bekostig nie, mag nie weggewys word nie.
  6. Leerlinge nie verplig mag word om toelatingstoetse af te lê nie.
  7. Wanneer die departement die plasing van ’n leerling oorweeg, daar in ag geneem moet word hoe ver ouers van die skool bly of werk, asook die kapasiteit van die skool.

Leerlinge mag nie regstreeks by ’n skool aansoek om toelating doen nie. Dit moet deur die departement se aanlyn-aansoekvorm op die departement se webtuiste gedoen word.

Die burgerregtewaghond AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het vandag ’n dringende beroep op ouers gedoen om slaggereed te wees met hul aansoeke vir gr. 1- en gr. 8-leerlinge wanneer die Gautengse skoolregistrasieplatform op 13 Mei 2019 vir die 2020-skooljaar open.

“Ouers moet geen geleentheid laat verbygaan nie en onmiddellik hul kinders registreer,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.

Die voorgestelde skoolregulasies vir die 2020-skooljaar is in Maart vanjaar goedgekeur nadat daar verlede jaar baie teenkanting teen die veranderings was.

Hierdie veranderings het sonder twyfel ’n impak op duisende leerlinge en die keuse van skool wat hulle wil bywoon.

Omdat die taal van onderrig nie meer as riglyn geag word nie en enige kind in enige skool geplaas kan word, selfs al is hul nie die onderrigtaal van die skool magtig nie, is daar groot kommer onder ouers dat skole wat gehalte-onderrig bied oorstroom kan word.

Kinders kan ook in enige skool in ’n 30 km-radius geplaas word, wat talle vervoer- en ondersteuningsprobleme vir sowel ouers as kinders gaan meebring.

Volgens Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, hou Lesufi egter vol met sy transformasie- en integrasieplan by skole. “Die probleem is dat die gehalte van onderrig in Gauteng nie gaan verbeter met meerrassige, geïntegreerde skole nie, maar liewer met meer fokus op moedertaalonderrig en die bou van meer skole om sodoende ’n gunstiger leeromgewing vir leerders in Gauteng te skep.”

AfriForum beplan ’n omvattende veldtog om ouers by te staan met die aanlyn-registrasieproses. Ouers word aangemoedig om op hoogte te bly van alle inligting oor die registrasieproses om sodoende te voorkom dat hul kinders slagoffers van hierdie stelsel word. Vir meer inligting oor die aanlyn registrasieproses en regulasies, besoek AfriForum se webtuiste onder die afdeling “VIR SKOLE” of http://bit.ly/2UnzpwY.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS, sê die Gautengse onderwysdepartement se bestuursplan vir toelatings vir die 2020 skooljaar is pas aan skole gestuur. Hiervolgens sal ouers van 13 Mei tot 15 Julie hê om voornemende gr. 1- en gr. 8-leerders op die aanlynplatform by die skool van hul keuse te registreer. Alle leerders moet teen 30 Oktober in ’n skool geplaas wees.

“Afrikaanse ouers moet leerders by die skool van hul keuse inskryf, sodra registrasies op 13 Mei oopmaak, om te verseker dat Afrikaanse skole se taal van onderrig behoue bly. Weens Afrikaanse skole se kultuur van uitnemendheid is hierdie skole uiters gewild onder Afrikaanse én Engelse leerders. Ouers wat te laat slaap, kan hul kind se plek in die skool van hul keuse verbeur,” sê Buys.

Die nuwe regulasies wat in Maart gepubliseer is, beklemtoon dat leerders wat eerste aan ’n bepaalde skool inskryf, die beste kans het om tot die skool toegelaat te word, ongeag die leerder se taal van onderrig. “Dit is daarom van kritiese belang dat ouers wat hul kinders in Afrikaans wil laat onderrig, eerste by Afrikaanse skole inskryf,” sê Buys.

Die departement het verlede jaar probeer om Engelse leerders in die Hoërskool Overvaal in Vereeniging te plaas, onder die voorwendsel dat hierdie leerders eerste by die skool ingeskryf het. “Flink optrede van Afrikaanse ouers kan die nodigheid vir latere regsaksie voorkom as daar politieke druk op Afrikaanse skole geplaas word om te verengels,” sê Buys.

Ouers kon verlede jaar reeds vanaf 08:00 aanlyn registreer by gdeadmissions.gov.za.

Buys herinner ouers dat leerders se aanlyn-inskrywing eers voltooi is wanneer ouers harde kopieë van die nodige dokumentasie by die betrokke skool ingehandig het. Die volgende dokumentasie moet binne sewe dae na die aanlyn-aansoek by die skool ingehandig word:

  1. ’n Bewys van die kind of ouer se woon- of werkadres, soos ’n munisipale rekening.
  2. ’n Bewys dat die kind geïmmuniseer is.
  3. Die leerder se vorige rapport, indien beskikbaar.
  4. Bewys van ouer- of voogskap.

Buys maan ouers ook om hul waglysnommer, wat deur die stelsel genereer en per SMS aan hulle gestuur word, veilig te bewaar. Hierdie is die enigste bewys dat die leerder wel by ’n bepaalde skool ingeskryf is.

Soortgelyke plasings