|

Ouers en studente van Tukkies raak keelvol vir bestuur se slap houding

AfriForum het vanoggend verskeie navrae van ouers van studente by die Universiteit van Pretoria (UP) gekry oor dié instelling se hantering van ’n handjievol betogers.

Die universiteit was aanvanklik oop, maar het omstreeks 10:30 gesluit nadat sowat 20 studente gedreig het om klasse te ontwrig.

“Die situasie is eenvoudig onaanvaarbaar. Die universiteit kan nie oopmaak én telefonies bevestig dat aktiwiteite soos normaal voortgaan net om ’n uur later weer te sluit nie. Dit is die derde keer in minder as ’n week wat ek by die universiteitshekke weggewys word omdat kliëntediens ook gesluit is,” het ’n ontstoke ouer gesê. Sy is een van talle wat probeer om getekende kontrakte vir voornemende studente by die universiteit in te dien. Dit kan nie elektronies gestuur word nie.

Studente wat wil studeer het vanoggend in ’n lang tou voor  ’n hek van die kampus gestaan en wag om toegelaat te word. Hulle is egter huis toe gestuur weens die dreigemente van ’n klein groepie selfverklaarde “stakers”.

Verskeie ouers het gesê prof. Cheryl de la Rey, rektor, moet bedank en vervang word met iemand wat ruggraat het. “Die universiteitsbestuur moet eerlik wees met die studente en duidelik maak of hulle nog enigsins die basiese funksies van ’n universiteit, soos akademie, studie en strewe na hoër en beter in gedagte het, en of die eens trotse UP nou doelbewus aan opstokers, moeilikheidmakers en die barbarisme en wanorde oorgelewer word,” het een gesê.

Hy het gesê dis ’n skreiende skande dat studente wat betaal en diegene wat onder moeilike omstandighede met beurse en lenings studeer ook aan die chaos onderwerp word. “Hierdie is nie net ’n aanval op dié studente persoonlik nie, maar ’n aanval op die land, sy ekonomie, sy orde en voortbestaan.”

Nog ’n ouer het gesê dit is duidelik dat die bestuur van die universiteit nie in beheer van die situasie is nie en dat hulle klaarblyklik ook nie omgee vir die regte van duisende betalende studente wat net onderrig wil kry nie.

AfriForum Jeug het intussen besluit om in die volgende paar dae selfverdedigingsopleiding- en inligtingsessies vir UP-studente aan te bied. Tydens dié sessies sal studente ingelig word oor hul regte wanneer betogings op kampus plaasvind en ook geleer word hoe om hulself te beskerm in gevaarsituasies.

 

Volgens Jaco Grobbelaar, koördineerder vir AfriForum Jeug op die Tuks-kampus, kan elke student wat belangstel om hierdie sessies by te woon of om inligting hieroor te kry sy naam en van na 072 142 8668 Whatsapp en verdere inligting sal dan per Whatsapp-groepe bekendgemaak word.

Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, sê dat die inisiatief deur die jeugorganisasie begin is omdat die veiligheid van studente op dié kampus en ook op ander universiteitskampusse bedreig word, ongeag die feit dat die rektor van die UP aan AfriForum Jeug die versekering gegee het dat studente se regte beskerm sal word.

“Dit is duidelik dat die UP-bestuur nie daarin slaag om te verseker dat betalende studente ongestoord met akademiese aktiwiteite kan voortgaan nie. Dié bestuur laat toe dat ʼn groep van ongeveer 30 oproeriges hul voorskryf, in só ʼn mate dat die kampus tans gesluit is en eers teen 10 Oktober sal heropen.”

 

Soortgelyke plasings