|

Ou vlag twiet: Ernst Roets onskuldig aan minagting van die hof

Die hooggeregshof in Johannesburg het vandag vir Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, onskuldig aan minagting van die hof bevind.

Dié klagte is onlangs deur die Nelson Mandela-stigting (NMS) gebring nadat Roets ’n afbeelding van die ou Suid-Afrikaanse vlag getwiet en gevra het: “Did I just commit hate speech?”

Die klagte het betrekking op ’n onlangse beslissing deur regter Phineas Mojapelo dat die ongemotiveerde openbare of private tentoonstelling van die ou Suid-Afrikaanse vlag op haatspraak neerkom. Die NMS het AfriForum as ’n respondent in dié hofaansoek gevoeg.

Ná sy twiet het die NMS ’n strafregtelike klag van minagting van die hof teen Roets in sy persoonlike hoedanigheid ingedien. Roets, wat sy doktorsgraad in die regte doen, hou vol dié vraag was akademies van aard en billike kommentaar op die gelykheidshof-uitspraak.

Regter Colin Lamont het vandag in sy uitspraak gesê Mojapelo se uitspraak was ’n verklarende bevel en dat Roets dus nie die hof geminag het nie. Lamont meen vir minagting moet daar ’n hofbevel wees wat iemand opdrag gee om iets te doen. Hy het ook in sy uitspraak gesê dat die NMS wel ’n klag van haatspraak teen Roets by die gelykheidshof kan indien.

“Ons is verheug oor die uitspraak, alhoewel ons dit te wagte was. Dit bevestig wat AfriForum van die begin af gesê het, naamlik dat hierdie ’n heksejag is deur die NMS teen diegene wat hulle uitdruk op ’n manier wat nie belyn is met die idees van die regerende elite nie,” sê Roets.

 

 

Soortgelyke plasings