|

O’Sullivan en Trent beweer polisie intimideer en misbruik mag

Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan en sy regskonsultant Sarah-Jane Trent meen die polisie het hul mag misbruik in hul albei se arrestasies wat onderskeidelik Vrydag- en gisteraand plaasgevind het.

Gegewe hoe Trent hanteer is, is sy van mening dat sy nie eens in hegtenis geneem is nie, maar eerder ontvoer is.

Sy is Vrydagmiddag by haar kantoor “gearresteer” waarna die polisie glo drie ure met haar rondgery het voordat sy na die Kameeldrift-polisiestasie geneem is waar sy aangehou is. Daar was aanvanklik verwarring oor of sy by Kameeldrift of Cullinan aangehou is en haar familie was ure lank onseker oor waar sy haar bevind nadat haar selfoon afgeneem is.

Trent is Sondagaand om 21:00 op borgtog van R5 000 vrygelaat. Sy het vanoggend in die Pretoriase landdroshof verskyn op ’n aanklag dat sy die Wet op die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (Opod) oortree het. Die saak is tot 19 Mei uitgestel.

Trent, wat vandag haar 33ste verjaarsdag vier, het haar ervaring in ’n opname van Forum Films se program, Konteks, as “vreesaanjaend en baie traumaties” beskryf.

“Ek was baie bang ná wat alles verlede jaar met Paul (O’Sullivan) gebeur het en die dreigemente wat hy gekry het. Ek glo ek is ontvoer en dat die polisie my wou intimideer en afskrik.”

Volgens Trent het die polisie ook nie die normale prosedures in haar sogenaamde arrestasie gevolg nie. Daarom gaan klagtes van dwarsboming van die gereg, bedrog en afpersing teen die polisie aanhangig gemaak word.

O’Sullivan het op sy beurt gesê hy is gisteraand by AfriForum se gebou in hegtenis geneem juis nadat Trent se saak met hul regsverteenwoordiger Willie Spies bespreek is. Meer as 7 voertuie en verskeie polisiebeamptes was by die arrestasie betrokke. Hy is ook na die Kameeldrift-polisiestasie geneem waar Trent vroeër aangehou is.

O’Sullivan is gisteraand ná ’n dringende hofaansoek kort voor middernag vrygelaat.

Die aansoek is gebring op grond van die feit dat die polisie ’n bestaande hofbevel van November 2016 misken het.

Luidens die hofbevel wat O’Sullivan vroeër gekry het, moet hy 48 uur kennis gegee word om homself aan die polisie oor te gee sou daar nuwe lasbriewe vir sy arrestasie uitgereik word.

O’Sullivan is oortuig dat die arrestasies verband hou met sy ondersoeke na korrupte regeringsamptenare. Hy is onder meer betrokke by die korrupsie-ondersoek na lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende polisiehoof.

O’Sullivan het gesê die polisie is sonder twyfel by omkopery en manipulering van die stelsel betrokke in pogings om kriminele te beskerm. “Miljoene rande se belastinggeld is al gemors om klagtes teen my te probeer opstel en daar was hoeveel pogings om my te arresteer en te dreig. Hierdie is ’n skokkende misbruik van mag deur die staat en ’n vertrapping van my grondwetlike regte.”

O’Sullivan het gesê ondanks alles is hy vasbeslote om voort te gaan om toe te sien dat korruptes aan die pen ry.

Kyk môre na die volledige video-onderhoud met O’Sullivan en Trent op Forum Films en AfriForum se facebook.

Soortgelyke plasings