|

Organisasies vat hande om boere in droogtekrisis by te staan

Verskeie organisasies het vandag saam met AfriForum hande gevat om boere te ondersteun en by te staan tydens die ergste droogte in dekades.

AfriForum, Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand, TLU SA en Cell C, het omvattende planne bekend gemaak om boere en hul vee wat tans onbeskryflik swaarkry, te help.

Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum, het ’n tjek van R200 000 aan TLU SA oorhandig om die samewerkingsooreenkoms af te skop.

“Daar word ’n mielie-oes van net 4,7 miljoen ton verwag teenoor die gemiddeld van 11,5 miljoen ton wat in die periode 2011 – 2015 geoes is. Witmieliepryse het reeds met 20% gestyg en verdere prysverhogings word verwag. Voedselprysinflasie was net onder die 5%, maar daar word voorspel dat dit teen Julie 10% sal wees.”

Maree het gesê elke mens gaan deur die droogte geraak word en daarom is begin om ’n noodfonds te stig. Mense kan R10 skenk deur “Droogtekrisis” na 38312 te SMS. AfriForum is bereid om elke bydrae op ’n rand-tot-rand-basis te verdubbel.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het op die skrikwekkende gevolge van die droogte gewys wat na “elkeen van ons se geld- en koskaste gaan oorspoel”.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Hy het gesê Solidariteit is bekommerd oor die finansiële nood van boere wat beteken dat as hulle nie kan plant en oes nie dit tot werksverliese sal lei. Daar is ook ’n negatiewe impak op bedrywe wat dienste aan boere lewer. Daar is ook nood met veevoer en hartverskeurende tonele van honger vee speel reeds op plase af.

Hermann het gesê die tekort aan produkte gaan tot hoër verbruikerspryse lei en arm Suid-Afrikaners gaan dit die hardste voel.

Hy het gewaarsku dat inflasiedruk tesame met ’n negatiewe plaaslike en internasionale politieke klimaat tot politieke onstabiliteit kan lei wat in gewelddadige protes kan oorspoel.

Hermann het ook na die regering se totale onbegrip vir en afwesigheid in die situasie verwys en gesê boere se waterregte is verswak, hul mineraalregte ontneem en hul eiendomsreg is weens grondhervormingsprosesse in die gedrang. “As die regering nie betrokke raak nie, gaan die droogte ’n langtermynkrisis skep.”

As deel van Solidariteit se hulpverlening gaan foto’s van vier fotograwe wat droogte-tonele afgeneem het, op 28 Januarie by die Atterbury-teater in Pretoria opgeveil word.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het ook gesê Suid-Afrikaners sal almal hande moet vat om boere te help. “Die regering skitter in sy afwesigheid om hulp te verleen en daar waar dit wel gebeur, word dit net vir swart kleinboere en nie kommersiële boere nie gegee.”

Bennie van Zyl, uitvoernde hoof van TLU SA
Bennie van Zyl, uitvoerende hoof van TLU SA

Van Zyl het gesê die impak van die droogte is op mikro- sowel as makro-vlak. Dit strek van waterprobleme op sekere plase, kritieke voertekorte, kontantvloeiprobleme en die geweldige omvang van insetkoste wat nie ’n opbrengs gaan lewer nie.

Van Zyl meen die ergste impak vir die boere lê in die komende maande nog voor wanneer banke nie krediet aan hulle gaan toestaan nie. Hy meen daar sal ook op dié vlak by die lot van boere ingegryp moet word.

TLU SA meen ’n gesamentlike operasionele sentrum (GOS) moet op grondvlak gestig word waar rolspelers soos kerke ook ingetrek kan word ten einde te bepaal waar die grootste nood is en te verseker dat hulp daar uitkom.

Solidariteit Helpende Hand het ook na die tafel gekom en R100 000 se verligting in die vorm van koopbewyse geskenk wat na TLU SA-verteenwoordigers versprei sal word om boere by te staan. ’n Studiehulpfonds van R100 000 is ook vroeër gestig om die kinders van boere met studiegelde te help. Daar is steeds geld in die fonds beskikbaar. “In tye van nood, is boere altyd eerste om hulp aan te bied. Hulle is ’n steunpilaar in die land en ’n integrale deel van die land se ekonomie. Dit is niks minder as reg hulle nou bygestaan word nie,” het dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand gesê.

Die selfoonverskaffer Cell C het aangekondig dat hy hulp gaan gee deur duisende liter water na boere en gemeenskappe te versprei waar daar ’n ernstige watertekort is. Dit sluit in gebiede soos Smithfield, Winburg, Reddersburg en Brandfort in die Vrystaat, Oudtshoorn, Prins Albert en Malmesbury in die Wes-Kaap.

 

 

 

 

Soortgelyke plasings