|

Organisasies span kragte saam vir regstrategie ná lys vir grondonteiening bekendgemaak is

AfriForum, die landbou-unie TLU SA en die sakewaghond  Sakeliga het besluit om kragte saam te snoer en ’n gesamentlike regstrategie te ontwikkel om die regering se voorgenome planne om eiendom sonder vergoeding te onteien, teen te staan.

Dié besluit volg nadat ’n interne besprekingsdokument van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, wat ’n lys bevat van eiendomme wat vir onteiening sonder vergoeding geoormerk word, deur ’n betroubare bron aan AfriForum uitgelek is.

Die bekendmaking van die lys het gemoedere in landboukringe sedert die naweek opgejaag.

Dan Kriek, president van AgriSA het AfriForum verkwalik en van onverantwoordelikheid beskuldig nadat die lys bekendgemaak is. Opposisiepartye en ander organisasies het dit verwelkom en steun ’n deursigtige proses van die staat se kant af.

Boere wie se plase se name op die lys verskyn, het hul algehele skok, verslaentheid én kommer uitgespreek.

Die bekendmaking van die lys is voorafgegaan deur bevestigings deur Zizi Kodwa, hoof van die presidensie, en ander lede van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) dat die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming oor ’n onteieningslys van 139 eiendomme beskik.

Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het ook aangedui dat haar departement reeds grond vir onteiening geïdentifiseer het, maar dat sy nie die lys gaan openbaar nie, aangesien dit as waarskuwing vir geaffekteerde eienaars sal dien om voor te berei vir regsaksie. Die lys het ook gevolg op ’n aankondiging van president Cyril Ramaphosa dat hy en die ANC die Grondwet wil wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Al drie organisasies stem saam dat, na aanleiding van bevestigings deur ANC NUK-lede en die minister, ’n onteieningslys wel bestaan. Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) se bevinding dat die lys geloofwaardig is en die feit dat die meerderheid eiendomme op die lys voldoen aan die departement se beskrywing van watter kategorieë eiendomme geteiken gaan word, is genoegsame rede om die lys met erns te hanteer en nie bloot af te maak nie.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit sal kortsigtig en naïef wees om nie die lys met erns te bejeën nie. “Hoe meer inligting in die openbaar is, hoe beter is dit vir alle Suid-Afrikaners.”

Volgens die IRV dui die lys daarop dat die regering reeds besluit het om met onteiening voort te gaan alvorens openbare en parlementêre prosesse afgehandel is. Dit dui ook daarop dat eiendom met hoë waarde geteiken word en nie onproduktiewe grond nie én dat die regering weinig oor  beleggerpersepsies omgee.

Die IRV meen die ondermyning van eiendomsreg sal katastrofiese ekonomiese en maatskaplike gevolge hê. Werkloosheid en armoede sal toeneem en as dit tot die uiterste gevoer word, kan Suid-Afrika soos Venezuela en Zimbabwe opeindig.

Die IRV het ’n dringende beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om hul stem in die verband te laat hoor.

AfriForum, TLU SA en Sakeliga het ’n beroep gedoen op hul onderskeie lede en ander mense wie se eiendom op die uitgelekte lys verskyn, om die organisasies te kontak en inligting te verskaf, sodat die drie organisasies gesamentlik op ’n strategie kan besluit om diegene wat nadelig geraak word, by te staan. Al drie organisasies het aangedui dat hulle reeds deur lede en ander mense wie se eiendom op die onteieningslys verskyn, oorval is. AfriForum het meer as 600 navrae gekry.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die bedreiging wat onteiening sonder vergoeding inhou van só ernstige aard dat verdeeldheid tussen die voorstaanders van die beskerming van eiendomsreg, nie bekostig kan word nie. “Saam is ons sterker. Ander voorstaanders van die beskerming van eiendomsreg, is welkom om by die organisasies se samewerkingsaksie aan te sluit.”

Kriel het die bekendmaking van die lys ook verdedig deur te sê dat AfriForum ’n verantwoordelikheid het om sy lede ingelig te hou. “Dit is duidelik dat die minister vir die publiek gelieg het. Ons sal ons egter nie met ’n regeringsbeleid van geheimhouding identifiseer nie. Die minister speel speletjies met die publiek, maar sy maak ’n fout om die intelligensie van die mense te onderskat.”

Louis Meintjes, president van TLU SA, sê dat eiendomsreg en vergoeding teen markwaarde die sleutel is tot ’n volhoubare ekonomie en ekonomiese groei. “Hierdie twee beginsels mag nooit ter syde gestel word nie. Dié saak is groter as enige persoon of instansie. Saamstaan is die enigste werkbare sukses vir grondeienaars in Suid-Afrika. Ons moet nou saamstaan om die land van ineenstorting te red,” het hy gesê.

Volgens Meintjes is daar van TLU SA se lede se name op die lys en van hulle is al vroeër geld vir hul plase aangebied, maar dit was ver onder markwaarde.

Meintjes waarsku dat die regering eers gaan poog om te onteiening met vergoeding, maar tot soveel as 60% onder markwaarde. Daarna sal hulle met onteiening sonder vergoeding kom. “Dit sal wees soos om diefstal te wettig. Ons moet die ANC keer.”

Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof, wys daarop dat die ANC kommerwekkende ooreenkomste met Zimbabwe se Zanu-PF begin toon: “Of die gelekte lys die finale lys is, al dan nie, is nie die kruks van die saak nie. Die feit is dat die ANC wél ’n lys van plase het wat die party met toetssake, onder die huidige Grondwet, sonder vergoeding wil onteien. Dit beteken dat die ANC, net soos ZANU-PF in Zimbabwe destyds, gaan probeer om beslaglegging op plase (’n fundamenteel ongrondwetlike daad) met prosedurele legitimiteit te beklee. As sakelui-, landbou en burgerregte-organisasie is dit ons plig om – in almal se belang – die Zimbabwe-scenario te verhoed deur oor ’n breë front saam te werk.”

Om die lys te besigtig en te bepaal of jou plaas se naam daarop verskyn, gaan na www.onteiening.co.za

Soortgelyke plasings