|

Orania se Ora word gedigitaliseer

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, het vandag meer lig gewerp op ’n “eksperiment” waarby hy betrokke is met die digitalisering van die Ora, die geldeenheid van Orania.

Roodt is besig met navorsing om te sien wat die impak hiervan gaan wees. Een van die vrae wat onder meer beantwoord moet word, is of meer mense in die toekoms die Ora sal gebruik. Die Ora is ’n voorbeeld van privaatgeld wat op ’n koopbewysbeginsel werk.

Roodt het verduidelik dat die digitalisering van die Ora, of enige ander geldeenheid, daarop neerkom dat jy fisies of elektronies geld aan die bank gee wat in ruil daarvoor geld op ’n toepassing op jou foon plaas. Dit beteken in kort dat jou selfoon jou beursie word. Daar is geen verskil tussen dié geld en fisiese Ora’s nie. Wat wel verskil, is hoe mense dit gebruik. Wanneer fisies met Ora’s betaal word, is twee of meer mense fisies by die transaksie betrokke. Met digitale Ora’s hoef mense nie fisies bymekaar te wees nie en kan hulle die geld elektronies vir mekaar stuur.

Die Ora gebruik die randwaarde. Dus vir elke rand wat jy inruil, kry jy een Ora van die bank. Die voordeel wat daar vir die gemeenskap van Orania is, is dat hulle rente op hul rande kan verdien wat die dorp se ekonomie sterker maak.

Roodt het beklemtoon dat die digitalisering van die Ora suiwer ’n eksperiment is om te sien of die gebruik daarvan uitbrei en meer mense, ook buite Orania, daarvan sal gebruik maak.

Roodt het ook na die verskynsel van Bitcoin verwys wat volgens hom geen belegging is nie omdat dit nie deur ’n bank gaan nie. Hy voorspel wel enorme ekonomiese veranderinge in die toekoms met die veranderinge wat tegnologie gaan meebring. Hy meen dit kan selfs die einde van banke beteken en dat belastingstelsels in die wêreld kan verander. Dit gaan moeiliker wees om mense te belas wat gaan beteken regerings gaan al hoe minder geld kry. Die mag gaan na die hande van individue verskuif met groter vryheid vir hulle.

Carel Boshoff IV, president van die Orania Beweging, het ’n oorsig gegee oor hoe die dorp die afgelope 20 jaar ontwikkel en gegroei het. Daar is tans sowat 1 500 inwoners en meer as 100 ondernemings.

Hy het gesê Orania is veel meer as net ’n dorp. Dit is ook ’n beweging wat gelei word deur die Orania-gedagte.

Hy het na die realiteite in Suid-Afrika verwys en gesê Orania is ’n gemeenskap binne die groter gemeenskap. Orania maak nie aanspraak op enigiets wat hy nie vir ander gun nie. Orania se politieke denke is gebou op erkenning.

Orania is gebou op die beginsel van selfstandigheid en nie onderhorigheid nie.

Boshoff het verwys na die posisie waarbinne Afrikaners hul tans as minderheid bevind wat nie gunstig is nie. Daarom word Orania as ’n simboliese verwysingspunt gesien waar konsentrasie van Afrikaners moontlik is. Terwyl baie die toekoms tans as ’n donkerplek beleef, is die mense in Orania en die wat in die gedagte glo positief. Die dorp bied geleenthede en kragte kan ontsluit word wat baie groot is. Vernuwing op alle lewensterreine is hier moontlik en dit is waarvoor mense wat in Orania glo werk.

Meyer le Roux, eienaar van die Buffelfontein Beesboerdery-restaurant, en die Eric Barnard Meubelgroep gaan ook in die toekoms die Ora-geldeenheid aanvaar.

 

Soortgelyke plasings