--> -->
Spyskaart +

Orania – Nie so ’n vergesogte droom nie

Februarie 23, 2015 deur Juran van den Heever

Ek, en drie ander AfriForum-personeellede, het Orania van 16 tot 19 Februarie 2015 besoek om opleiding by hulle dienssentrum, Senbel, te gee. Dit was my eerste besoek aan die dorp en my verwagtinge was grootliks gebaseer op dit wat ek in die media en by my kollegas gehoor het. Ek is dus bly dat ek die gemeenskap self kon besoek, sodat ek my eie opinie kon vorm. Ek moet dan ook ruiterlik erken dat dié Karoo-dorp al my vooropgestelde verwagtinge oortref het.

Aan die einde van ons besoek, kon ek die gemeenskap in ses punte opsom:
1. Gasvry
2. Innoverend
3. Herwinnings- en omgewingsvriendelik
4. Selfonderhoudend
5. Hardwerkend
6. ’n Betrokke gemeenskap wat omgee vir mekaar

Toe ons daar kom, was ek verlig om te sien dat hierdie vriendelike dorpie nie met sekuriteitshekke van die buitewêreld afgesny is nie, maar dat besoekers met ope arms deur die gemeenskap verwelkom word. Ons is vriendelik ontvang by die Oewer Hotel en is reeds die eerste aand al deur Jaco en Magdaleen Kleynhans genooi vir bobotie en ’n gesellige kuier. Daarna het ons elke middag en aand, saam met mense uit die gemeenskap, gekuier en geëet. “Ons droom groot en werk hard hier in Orania,” het Jaco vertel. “Orania is nie iets wat gebeur nie, Orania is iets wat gedoen word.”

Ons het op die Oewer van die Oranjerivier gebly. In ’n oase, met koel lugreëlings in luukse hotelkamers (met DStv), in die warm Karoo-son met ’n heerlike restaurant en ’n spa – die Orania Oewer Spa. Die lowergroen bome en grasperke het my dadelik beïndruk en rustig laat voel. Buiten vir die luukse hotel is hulle ook besig met ander vernuwingsprojekte en uitbreidings, soos die nuwe Stokkiesdraai Avontuurpark en Winkelsentrum, wat aan die regterkant van die dorp se ingang geleë is. En ek kon nie anders as om te voel asof hierdie dorpie die Karoo se eie Clarens of Dullstroom is nie.

Die volgende dag het ons die dorp platgery om alles te sien waarvan ons al so baie gehoor het. Die dorp se herwinningsprojekte is baie opvallend en is beslis op internasionale standaard. Buiten vir die feit dat inwoners tuis van verskillende vullisdromme gebruik maak, is daar ook talle dromme oral in die dorp beskikbaar waarin vullis, wat reeds gesorteer is, weggegooi kan word. Elke asblik lees: “Sorteer vir ’n groen Orania”. Afvalprodukte word gebruik om sommige van die nuwe huise te bou en daar word ook gebruik gemaak van alternatiewe verkoelings- en verhittingsmeganismes. Die een huis het selfs ’n “lewende dak” met vygies en gras bo-op om die hitte te reguleer. Die Grootgeluk Sonpark begroet jou wanneer jy die Kleingeluk-uitbreiding binnery. Dit is bekostigbare behuising, binne ’n groenprojek, wat gebruik maak van sonenergie. Waar kan ’n mens dan ook nou so ’n projek beter bestuur as in die Karoo-son? Die Sonskip of Projek Aardskip is ’n groot stoor wat gebruik word vir herwinning, voedsel, energie, water, riool en klimaat.

Op pad na die Kleingeluk-uitbreiding is daar groot advertensieborde wat lees: Oranet – Orania se Internetdiensverskaffer; OK Grocer – “Ons gaan die ekstra myl”; Orania Museum – “Van gister tot vandag”; en Radio Orania, 95.5FM – “Ons eie stem”. Die nie-stakende Orania-poskantoor en Orania Veiligheidskantoor pronk langs mekaar en die kuierstoep, wat deur ’n groen parkie omring is en verskeie winkeltjies huisves, is ’n aanduiding dat selfdoen ’n belangrike en konkrete konsep in hierdie gemeenskap is.

 

Die verskillende ontwikkelings, elkeen met ’n unieke styl en bydrae tot ’n groener omgewing, het my baie beïndruk. Jong manne, wat trots en hard aan die werk is om herwinbare en omgewingsvriendelike huise te bou, is ’n voorbeeld van die harde werk wat verrig word om hierdie gemeenskap uit te brei. Nuwe ontwikkelings, waarmee hulle tans besig is, sluit die Karooplaas in. Dit is ’n winkelsentrum wat ’n groot fliekteater en gourmet-restaurant, asook verskeie ankerwinkels gaan huisves. Die Stokkiesdraai Avontuurpark en Winkelsentrum is ook deur middel van harde werk opgerig.

Die gemeenskap is die hartklop van hierdie Karoo-dorp en daarom fokus die dorpsraad baie op gemeenskapsgeriewe- en dienste. Die gemeenskapswembad, wat net so links van die bekende Koeksister-monument geleë is, laat ander munisipale swembaddens soos riooldamme lyk. Die groen grasperke en helderblou water maak dit beslis die moeite werd om tyd daar te spandeer. Die kliniek, Oramed, en die Orania Maatskaplike Raad sien om na almal se gesondheid en welstand. Daar is ook ’n Orania Openbare Fietsprojek, waar fietse gehuur kan word om in die dorp mee rond te ry.

’n Plek waarvan ek vooraf geweet het en self wou besoek, is Elim. Dit is ’n woonarea, wat in die vorm van kommunes gebou is, waar hawelose Afrikaners gehuisves word en fokus op projekte soos bouwerk, tuinwerk en huiswerk. Dit bied aan hierdie mense ’n heenkome en ’n werk waarop hulle kan trots wees.

Die aand, voor ons moes huistoe gaan, is ons deur Sarel Roets, ’n sakeman en die eienaar van Stokkiesdraai Avontuurpark en Winkelsentrum, en sy vrou onthaal. “My huis staan altyd oop, my motor se sleutels word binne-in gelos en my kinders ry fiets in die straat. Hierdie lewenswyse behoort die norm te wees en ons kry dit hier reg,” sê Sarel. Hy het ’n beroep in toerisme verruil vir ’n rustiger lewe in Orania en kan nie verstaan hoekom mense nog agter slot en grendel wil leef nie. “Die skuif is meer as net ’n kopskuif, dit is ’n besluit wat net jy kan neem, maar ons is gelukkig. Ons het kwantiteit opgegee om ’n kwaliteitlewe te hê.”

Met Sarel se woorde nog vars in ons geheue, het ons die pad terug Pretoria toe aangepak. Die inwoners van Orania het ’n groot droom; hulle wil ’n stad bou wat nie afhanklik is van die regering nie en hulle kry dit reg. Nou moet elkeen van ons net dieselfde kopskuif maak.