|

Opgeblase SA kabinet mors belastingbetalers se geld

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

President Jacob Zuma sal vir homself politieke vyande skep indien die Suid-Afrikaanse kabinet ooit verklein.

Dit is die mening van prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit.

Duvenhage het gereageer op die uitsprake van Mmusi Maimane, DA-leier, oor die grootte van die Suid-Afrikaanse kabinet tydens die alternatiewe staatsrede wat verlede week in Kaapstad plaasgevind het.

Luidens mediaberigte het Maimane gesê  die staat kan sowat R4,6 miljard spaar indien die 37 huidige ministers verminder word na 15.

Maimane is van mening dat die “statusgedrewe” regering op die president se lojaliteitsbeloningsprogram staatmaak en hy het voorgestel dat die kabinet slegs uit 15 departemente moet bestaan.

Duvenhage het aan Forum Nuus gesê dat hy ongetwyfeld saamstem dat die huidige kabinet “oorvol” is. Volgens hom neem Zuma ministers in diens om groeiende steun en politieke voordeel te trek. “Hierdie ministers moet dus gedien word en word tans beloon met goeie poste, groeiende salarisse en status. Om so ’n struktuur in stand te hou, moet die belange van die groep toenemend geakkomodeer en word.”

Duvenhage verduidelik dat die vermindering van ministeries sal lei tot ‘n drastiese herstrukturering van staatsdepartemente. “Daar is ruimte om die kabinet kleiner en meer gefokus te maak, maar die huidige kabinet gaan daaroor om belange te beskerm.”

Hy het voorts gesê dat daar in 1994, onder leiding van oudpres. Nelson Mandela, aansienlik minder ministers was omdat die portefeuljes beperk was en dat aanstellings gefokus het op funksionalitiet. “Die staat se groeiende kabinet gaan dalk binnekort ’n punt van nie-volhoubaarheid bereik.”

Duvenhage sê ook dat die vermindering van ministeries nie binne die ANC-regering sal plaasvind nie, omdat dit te veel komplikasies sal veroorsaak. “Huidige ministers het sekere magsbasisse wat herlei word na die president en indien dit sou verminder of verdwyn gaan die president vir homself baie politieke vyande skep.”

“Soms moet ‘n leier besluite neem ten koste van sy ondersteuningsbasis, maar Zuma probeer eerder om polities te oorleef.”

Indien die DA se plan verwesenlik word, stel Duvenhage voor dat die geld wat bespaar word aan ekonomiese groei bestee moet word. “Ek dink dit is die belangrikste om die verswakte ekonomie weer aan die gang te kry.  Ons benodig ekonomiese groei van 4% tot 5 % om meer werk te skep. Tans groei ons ekonomie met slegs 1%.”

In teenstelling met die DA, meen prof. Dirk Kotze, politieke ontleder van Unisa, dat die Suid-Afrikaanse kabinet nie uitsonderlik groot is indien dit vergelyk word met die van ander lande nie.

Hy sê voorts dat ‘n afskaling van ministeries die totale afskaling van die staat se verantwoordelikhede moet beteken. “Die alternatief is een minister per department en al spaar die regering op salarisse gaan die werkslading nie verminder nie.”

Kotze meen dat departemente uiteindelik gekombineer gaan moet word om te voldoen aan staatsverpligtinge.

“Die DA moet dalk eerder klem lê op die gehalte en nie noodwendig die getalle van die kabinet nie.” Hy is ook van die mening dat die regering nie gaan afskaal nie, maar eerder toenemend sal groei.

Johan Nortje, navorser by AfriForum se Navorsingsinstituut (ANI), sê dat hoewel die Suid-Afrikaanse kabinet te groot is, volg dit ‘n internasionale tendens van ander BRICS lande soos Sjina en Rusland.

Volgens ‘n studie wat in 2014 gedoen is oor die hoeveelheid en ekonomiese krag tussen die kabinette van verskeie lande, was Suid-Afrika die BRICS-land met die grootste kabinet met ‘n totaal van 35 ministers. Rusland  het 31 gehad, Sjina 24, Brazilië en Indië elk 25. In vergelyking met ander lande, het ’n land soos die VSA slegs 16 ministeries gehad in 2014.

Nortje meen dit is nie ’n goeie norm dat Suid-Afrika 37 ministeries het nie. Die rede hiervoor, is volgens hom, die feit dat die staat toenemend ’n groter rol in die burgerlike samelewing en kwessies wil speel. “Die staat bemoei hom met kwessies wat nie aan hom behoort nie. Burgerlike en welsynsorganisasies behoort eerder hieraan aandag te gee.”

Met betrekking tot die toename in ministeries, sê Nortje dat meer ministers nie ’n oplossing is vir ’n meer doeltreffende staat nie. “Die staat word lomper en het nie noodwendig volhoubare kernfokusse nie.”

Hy meen dat die staat behep is met kwessies soos transformasie en naamsverandering en gevolglik “onderpresteer” wanneer dit by kwessies soos administrasie en dienslewering kom.

Hy is ook van mening dat hoewel die DA se plan beter sal wees, is dit ’n droom wat nie vinnig sal realiseer nie. “Dit is nie ’n geval van waar mense poste sal opgee ter wille van doeltreffendheid nie. Indien ’n individu ’n pos beklee waar hy voordele kry en ’n salaris verdien, sal hy of sy dit nie prysgee nie.”

Nortje voorspel dat die staatsdiens dalk nog verder sal groei en dat dit hom nie sal verbaas as daar binnekort 40 ministers is nie.

“Die staat speel nou ’n rol in ons private en professionele lewe met kwessies soos swart ekonomiese bemagtiging. Suid-Afrika werk dit nie teen nie en die regering gebruik sy staatsmasjinerie om hulle eie ideologie te dryf.”

 

 

Soortgelyke plasings