|

Operasie Misdaadvry was reuse sukses

Die burgerregte-organisasie AfriForum se Operasie Misdaadvry het die afgelope naweek bewys dat gemeenskappe veiliger is daar waar veiligheidstrukture gevestig word.

Sowat 3 000 mense was betrokke by die nasionale massapatrollie wat Vrydagaand landwyd plaasgevind het. Altesame 52 AfriForum-buurtwagte, 29 outonome buurtwagte, 29 gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s), 6 gemeenskapsorganisasies en 11 sekuriteitsmaatskappye het aan die operasie deelgeneem.

Op grondvlak het die Suid-Afrikaanse polisiediens ook baie goeie samewerking gebied, het Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Volgens Cameron wys Operasie Misdaadvry dat gemeenskappe die vermoë het om hulself te beveilig en dat sigbare polisiëring die sleutel tot sukses en misdaadvrye gebiede is.

Wat Operasie Misdaadvry nog meer indrukwekkend maak, is dat daar tydens die operasie 8 419 man-ure gewerk, 61 115 km afgelê is en belastingbetalers sowat R500 000 bygedra het tot die projek. Altesame 35 arrestasies is gemaak wat wissel van oortredings soos die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie tot dwelmverwante sake.

“In die gebiede wat gepatrolleer is, was daar geen ernstige misdade nie, wat wys dat patrollies en gemeenskapsingryping werk,” het Cameron gesê.
Soortgelyke aksies sal ook in die toekoms uitgevoer word.

Die nasionale massapatrollie is deel van AfriForum se veldtog van 10 Dae van Selfstandigheid wat afgesluit word met die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad wat Saterdag in Pretoria by die Heartfelt-arena gehou word. Om te registreer gaan na www.toekomsberaad.co.za

Soortgelyke plasings