--> -->
Spyskaart +

Openbare vergadering rakende SE7 en Bedworthpark se hersonering ontsier deur rassisme en kleptokrasie deur senior amptenare van Emfuleni

Maart 27, 2014 deur Esmarie Prinsloo

ʼn Openbaredeelnamevergadering gehou by die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark is ontsier deur rassisme van VUT-studente en persone uit die gemeenskap teenoor inwoners van SE7 wat beswaar aanteken teen die hersonering van hul eiendomme en aangrensende eiendomme om groeiende studentegetalle te akkommodeer.

“Die gedrag van senior munisipale amptenare dui op kleptokrasie en begeleide demokrasie,” sê Marcus Pawson, AfriForum se gemeenskapskoördineerder vir Gauteng-Suid.

Die gemeenskap word inderwaarheid nie gehoor of in ag geneem nie en hulle dra die las van korrupsie en arrogante verhuurders wat nie vir dienste betaal nie.

Die inwoners is eensgesind in hul teenstand teen die beplande hersonering en ontwikkeling van hul woonbuurt. Die gemeenskap se klagtes en vrae aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het onbeantwoord gebly en is begroet met ’n voorlegging van juis dit wat hulle verwerp. AfriForum se voorsitter, mnr. Wynand Bezuidenhout, het kapsie gemaak en aan mnr. K Malindi, lid van die burgemeesterskomitee gesê dat die munisipaliteit die gemeenskap se bereidwilligheid om deel te wees van die oplossing ignoreer deur met die beplande hersonering voort te gaan. Die senior amptenare fokus slegs daarop om die studente te akkommodeer – tot nadeel van inwoners.

Hierop het mnr. Malindi AfriForum valslik daarvan beskuldig dat hulle swart studente uit die dorp wil verwyder en na Sebokeng en Sharpeville wil verskuif. Gemoedere het dadelik vlam gevat en tweespalt tussen wit en swart gemeenskapslede het ontstaan. Dit is blatant vals en mnr. Malindi het doelbewus ʼn wanvoorstelling geskep om die vergadering in ʼn rassedebat te omskep.

“Mnr. Malindi het die vergadering verpolitiseer en polarisasie tussen rasse veroorsaak,” het Bezuidenhout gesê. Tydens die vergadering was die VUT-studente buite orde deur herhaaldelik te lag wanneer inwoners van SE7 hulle griewe lug en teenstand teen die beplande hersonering uitspreek.”

AfriForum se Vanderbijlpark-tak betreur mnr. Malindi se rassistiese stelling, wat daartoe gelei het dat die hele vergadering oneffektief begin kommunikeer het. Die studente het ook, voordat die openbare vergadering verdaag het, die skoolsaal se alarm aangeskakel om die vergadering verder te ontwrig. Verdere sinvolle gesprekke moet met die munisipaliteit gevoer word, maar ons moet mekaar respekteer sonder dat amptenare se rassistiese onderrokke uithang.

Hierdie hele aangeleentheid word veroorsaak deur die munisipaliteit se onvermoë die afgelope 10 jaar om die verordeninge toe te pas, en toe te laat dat onwettige aanbouings plaasvind. Tans mag nie meer as vier onverwante persone in SE7 op een erf woon nie.

Sluit aan by AfriForum se Vanderbijlpark-tak om verdere druk uit te oefen teen die verswakking van jou munisipaliteit en woonbuurte. SMS jou dorp se naam aan 31336. 50c/SMS.