|

Openbare universiteite bars uit hul nate, maar Akademia het nog plek

Terwyl die meeste hoër­onderwysinstellings se aansoeke vir studie in 2020 reeds gesluit het, het Akademia egter spesiaal laataansoeke vir 2020 verleng tot 29 Januarie om aan skoolverlaters van 2019 geleentheid te gee om vir kwalifikasies in te skryf.

Vanjaar het 172 043 matrikulante universiteitsvrystelling in Suid-Afrika gekry. Dit is glo die meeste nog sedert die begin van demokrasie en gevolglik is die land se voorste universiteite stampvol.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het sowat 34 000 aansoeke ontvang en 11 200 studente aanvaar hoewel daar vir slegs 5 300 eerstejaars plek beskikbaar is. Die Universiteit van die Witwatersrand het ook net plek vir 5 200 nuwelinge en het 70 349 aansoeke ontvang. Die Universiteit van Kaapstad het 62 740 aansoeke ontvang en kan net 4 200 akkommodeer. Die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) het beide sowat 52 000 aansoeke ontvang terwyl hulle onderskeidelik slegs 9 391 en 8 900 nuwe eerstejaars kan inneem.

Daar word verwag dat studente ook op kampusse gaan toesak nadat die EFF se jeugvleuel luidens mediaberigte matrikulante met universiteitsvrystelling en ander voornemende studente aangeraai het om in groot getalle op kampusse tydens die registrasieproses op te daag en ’n plek te eis.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoëronderwys en opleiding, het dit egter duidelik gemaak dat geen instap-aansoekers by universiteite en TVET-kolleges toegelaat sal word om te registreer nie.

Volgens Paul Vogel, operasionele bestuurder by Akademia, het dié privaat tersiêre instelling besluit om hul aansoektydperk te verleng omdat talle matrikulante nog onseker oor hulle toekomsplanne is en Akademia hul graag as gemeenskapsinstelling wil akkommodeer.

Dié hoëronderwysinstelling bied geakkrediteerde grade, hoër sertifikate (wat kan dien as toelating tot grade) en ʼn gevorderde diploma (vir gekwalifiseerde werkendes wat graag verdere studies wil aanpak) aan.

Volgens Vogel is die instelling se onderrigmodel uiters gepas vir diegene wat oorweeg om te studeer en te werk of ander belangstellings wil najaag. “ʼn Werkende student ontvang ʼn inkomste en kan solank aan studies afbetaal wat latere druk van studieskuld verminder, maar doen ook waardevolle werkservaring op, wat hulle meer aantreklik vir die arbeidsmark maak.”

’n Nuwe kampus ter waarde van R1,5 miljard is ook in die pyplyn vir Akademia, terwyl tussen 30 en 40 grade vir akkreditasie voorberei word.

Aansoeke om by Akademia te studeer word aanlyn voltooi deur die maklike stappe op die aansoekportaal te volg:  https://akademia.ac.za/index.php/doen-aansoek/

By dié instelling kan die volgende kwalifikasies verwerf word:

  • LLB (Regte)
  • BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • BCom (Ekonomie en Regte)
  • BCom (Finansiële Beplanning)
  • BCom (Ondernemingsbestuur)
  • BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
  • Gevorderde Diploma in Projekbestuur
  • Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
  • Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde

Soortgelyke plasings