|

“Open Stellenbosch”open deure vir rassestryd

 

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die omstrede video van die Open Stellenbosch-jeugorganisasie is “eensydig en emosioneel gelaai”.

Só meen Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Die video het in die naweek opslae begin maak en is oënskynlik daarop gemik om ’n rassestryd op die kampus van die Universiteit van Stellenbosch (US) te ontketen.

Maree het gesê Open Stellenbosch misbruik emosie om voorbladnuus te haal. “Die groep se bewerings dat hulle uitgesluit voel op die kampus en dat transformasie volgens hulle nie vinnig genoeg plaasvind nie, is misplaas.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die video meer geloofwaardig sou wees indien dit nie so ’n eensydige benadering gevolg het nie. “Hierdie video onderstreep die feit dat Open Stellenbosch se taalstryd nou in ’n rassestryd ontaard het en dat die jeugorganisasie ’n rasse-agenda dryf.”

Hy het bygevoeg dat die sensitiewe ervarings van die studente gerespekteer word, maar dat die dokumentêr geen statistieke bevat om die inhoud feitelik te staaf nie.

In die video getiteld Luister sê een van 32 studente wat kommentaar gelewer het “die universiteit moet soos ons lyk. Soos Suid-Afrikaners.”

Die dokumentêr is verlede week bekendgestel en vertel die persoonlike verhale oor beweerde rassediskriminasie en transformasie van die studente en een dosent aan die US.

Luidens mediaberigte het Simone Cupido, ’n lid van die organisasie gesê dat die doel van die dokumentêr is om die mate van rassisme en eksklusiwiteit by die universiteit te ontbloot aan die publiek. Die video is versprei na afloop van ’n memorandum wat in Mei aan prof. Wim de Villiers, visekansellier en rektor, oorhandig is. Hierin was ’n sterk pleidooi dat die huidige taalbeleid van die universiteit hersien moet word.

Die video, wat al meer as 50 000 keer gekyk is, bevat studente se verhale van gevalle waar “whiteness” en “patriargie” ’n persoonlike invloed op hul lewens in Stellenbosch gehad het. Die video wys ook kort, onduidelike beeldmateriaal van die oorhandiging van die memorandum aan De Villiers.

AfriForum gaan ’n ope brief rig aan die publiek om perspektief te probeer lewer oor die inhoud, konteks en werklike doel van die  dokumentêr. “Ons verontagsaam nie hierdie studente se verhale nie, maar wil klem daarop lê dat geen name, datums, of konkrete bewyse van hierdie gevalle in die dokumentêr verskyn nie,” het Maree gesê. Hy meen dat die wyse waarop Open Stellenbosch besluit het om hulle versoeke tot die US te rig, is propagandisties en gaan verdere opslae maak.

Die US het in reaksie op die video op die Matie webtuiste gesê hy neem kennis van die video. De Villiers het gesê die studente praat oor verskeie belangrike kwessies wat hulle raak. Hy en die bestuur van die universiteit is nie onverskillig daaroor nie en dit is uitdagings wat op verskillende terreine gepak word.

“Om egter te insinueer dat die universiteit nie ernstig is oor transformasie nie en ’n kultuur van apartheid in stand hou, is egter onwaar en kan nie daar gelaat word nie.”

Hy het ook beswaar gemaak teen die indruk wat gewek word dat hy en bestuur nie omgee of na studente luister nie. De Villiers het aangedui dat die universiteit indringend na transformasie kyk.

Klik hier om die video te sien: https://www.youtube.com/watch?v=sF3rTBQTQk4

 

Soortgelyke plasings