Ope brief aan hoofregter oor amptelike hoftaal


Verskeie vooraanstaande akademici en taalaktiviste, insluitend AfriForum se Alana Bailey en Annelise de Vries, het ’n ope brief aan hoofregter Mogoeng Mogoeng gerig om die besluit wat in die Sunday Times van 15 April 2017 verskyn het dat Engels voortaan die enigste amptelike taal van hofrekords in Suid-Afrikaanse hoër howe sal wees, te bevraagteken. Hierdie skrywe volg nadat geen antwoord ontvang is op privaat korrespondensie wat in dié verband aan die hoofregter gerig is nie.
Die groep bevraagteken die hoofde van die howe se gesag om hierdie eensydige besluit te neem, asook die grondwetlikheid daarvan. Hulle spreek ook kommer daaroor uit dat die besluit van geen insig in die veeltalige aard van die Suid-Afrikaanse samelewing getuig nie en die gevaar skep dat sowel slagoffers van misdaad as aangeklaagdes en regspraktisyns se regte as gevolg daarvan geskend sal word.
’n Dringende versoek vir betekenisvolle deelname en raadpleging van alle belanghebbendes oor die toekoms van amptelike tale in gebruik in Suid-Afrikaanse howe word aan die hoofregter gerig.
AfriForum beywer hom vir die bevordering van Suid-Afrikaanse taalregte oor die algemeen en Afrikaanse taalregte in die besonder. Dit is in die belang van alle inwoners van die land dat ’n veeltalige aanslag in howe gevolg word.

Soortgelyke plasings