Oos-Rand-takke dien skriftelike kommentaar tydens GOP-proses in


AfriForum se Oos-Rand-takke het die laaste twee weke tydens die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vergaderings skriftelike kommentaar op die onderskeie lede van die burgemeesterskomitee beteken.

Alhoewel die vergaderings op uiterse kort kennisgewing aan die publiek gekommunikeer is, is elkeen van die vergaderings deur die plaaslike AfriForum-takbestuur bygewoon. Die skriftelike kommentaar is goed deur die meeste van die munisipale bestuurders ontvang, behalwe in Springs –Masele Madihlaba, burgemeesterskomiteelid, het insette van Springs se plaaslike takbestuur geweier en aangedring dat enige kommentaar ge-epos moet word. Verder het Madihlaba ook geweier om in Engels met die gehoor te kommunikeer en die takvoorsitter moes op Engels as kommunikasiemiddel aandring ten einde almal te akkommodeer.
Skriftelike kommentaar tydens hierdie vergaderings is van kardinale belang aangesien dit die publiek se deelname in die begrotingsproses tot en met 2022 vervat. Die takke het elk verfynde insette opgestel oor probleme in die onderskeie dorpe wat dringende aandag verg. Takbesture het op munisipale uitgawes, die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsplan (ROP) en die sonering van verskeie oop gebiede gefokus.
Die publiek het tot en met 23 April 2019 kans om steeds kommentaar te lewer deur enige insette aan budgettips@ekurhuleni.gov.za te e-pos.

“Ons moet insae hê in die aanwysing van hulpbronne en dienslewering, asook wat die munisipaliteit vir elke woongebied beplan,” sê Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum moedig inwoners van die Oos-Rand aan om aan hierdie openbare proses deel te neem en by hul naaste AfriForum-tak betrokke te raak. SMS “GOP” na 45342 (R1) en voeg jou steun tot hierdie aksie.

Soortgelyke plasings