Oos-Rand: AfriForum-takke betrokke by hersiening van munisipale GOP


Die AfriForum-takke in die Oos-Rand het op 13 Maart 2018 ’n werkswinkel in Kempton Park gehou oor deelname aan die hersieningsproses van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) wat gedurende Maart en April gaan plaasvind.
Die takke wat deelgeneem het, sluit Alberton, Benoni, Kempton Park, Edenvale, Germiston en Springs in. Hierdie werkswinkel het spesifiek gefokus op die deelname van die onderskeie takbesture aan die GOP-proses, asook hoe om kommentaar daarop op te stel en te verfyn. Takbesture gaan fokus op munisipale verordeninge, die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelings­plan (ROP) en die sonering van verskeie oop gebiede.

“Dit is van kardinale belang dat die publiek van die GOP-proses kennis neem en deelneem aan die openbare vergaderings wat in April 2018 gehou gaan word. Ons moet insae hê in die allokering van hulpbronne en dienslewering, asook wat die munisipaliteit vir elke woongebied beplan,” sê Marie Naude, AfriForum se streekskoördineerder vir die Oos-Rand.

Die openbaredeelnamevergaderings vir April sal soos volg plaasvind:
 

Gebied Datum Tyd Plek
Alberton 17 April 2018 18:00 Alberton Civic Hall
Benoni 11 April 2018 18:00 Actonville Hall
Boksburg 12 April 2018 18:00 Boksburg City Hall
Brakpan 19 April 2018 18:00 Brakpan Indoor Centre
Edenvale 17 April 2018 18:00 Edenvale Community Hall
Germiston 18 April 2018 18:00 Dinwiddie Hall
Kempton Park 11 April 2018 18:00 Kempton Park City Hall
Nigel 11 April 2018 18:00 Mackenzieville Hall
Springs 19 April 2018 18:00 Springs Supper Hall

 
Ons moedig inwoners van die Oos-Rand aan om aan hierdie openbare vergaderings deel te neem en by hul naaste AfriForum-tak betrokke te raak. SMS “GOP” na 45342 en voeg jou steun tot hierdie aksie. Elke SMS kos R1.

Soortgelyke plasings