|

Oorwinning vir gelykheid voor die reg: NVG gaan Jiba vervolg ná volgehoue druk deur AfriForum

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het AfriForum se privaatvervolgingseenheid skriftelik in kennis gestel dat dit adv. Nomgcobo Jiba, voormalige NVG-hoof, gaan vervolg. Hierdie ommeswaai kom nadat AfriForum en adv. Gerrie Nel die NVG in November 2019 met ’n mandamusaansoek gedreig het om ’n besluit oor die vervolging van Jiba te neem. Die privaatvervolgingseenheid het ’n geruime tyd gelede reeds aangekondig dat dit Jiba privaat wil vervolg.

Die NVG het ook aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid die versekering gegee dat die dossier teen Jiba veilig in ’n kluis is en nooit weg was nie. Dit volg ná bewerings in die media dat die dossier vermis is.

Jiba se vervolging kom nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangedui het dat adv. Nel vir adv. Jiba namens genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, vir bedrog en meineed sou vervolg. Jiba word allerweë bestempel as iemand wat in oudpres. Jacob Zuma se binnekring was. Volgens getuienis voor die Zondo-kommissie het Jiba boonop geld van Bosasa ontvang. Die NVG het egter tot nou toe geweier om ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik óf om Jiba self te vervolg.

“Die NVG se ommeswaai om adv. Jiba uiteindelik te vervolg, is nie net ’n oorwinning vir AfriForum nie, maar vir almal in die land wat in gelykheid voor die reg glo en wat teen staatskaping gekant is. Dit is egter jammer dat die privaatvervolgingseenheid eers soveel druk op die NVG moes uitoefen om bloot hul werk te doen en prima facie-sake te vervolg,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Soortgelyke plasings