Header Artwork
Oor Black Lives Matter en plaasmoorde

Deur Ernst Roets

’n Mens hoef nie verbaas te wees dat die Black Lives Matter- (BLM-)opstande in die VSA na Suid-Afrika oorgespoel het nie: Die argumente en taktieke van anti-wit aktiviste in Suid-Afrika is dikwels van die VSA afkomstig.

Die feit dat die regerende ANC onder leiding van President Ramaphosa sommer ’n internasionale teenrassismeveldtog na aanleiding van die dood van die swart Amerikaner George Floyd afgeskop het, is egter bietjie vergesog – veral gegewe die werklikhede in Suid-Afrika. Ramaphosa het skynbaar veel meer te sê oor die dood van Floyd aan die hande van wit polisiemanne in die VSA as oor die dood van Collins Khoza aan die hande van swart soldate in Suid-Afrika.

Dieselfde Ramaphosa wat na aanleiding van die dood van ’n swart Amerikaner ’n veldtog teen wit rassisme van stapel wil stuur, het vroeër op ’n internasionale platform gesê dat daar geen grondgrype en ook geen moorde op boere – of spesifiek wit boere – in Suid-Afrika is nie.

Daar is genoeg rede om dié dubbele standaarde, kieskeurige aandag en – soms blatante – oneerlikheid van die Suid-Afrikaanse regering, die regerende party en die hoofstroomkommentators wat hulle in dié kwaad stook, teen te staan. Kritici van die BLM-veldtog antwoord soms daarop deur te sê dat álle lewens saak maak en dat dit verkeerd is om spesifiek vir die beskerming van swart lewens standpunt in te neem.

Dié kritiek is misplaas.

As dit inderdaad die geval is dat swart mense in buitengewone getalle op grond van hul ras deur wit polisiebeamptes geteiken, aangeval en vermoor word, is dit inderdaad goed om ’n veldtog daarteen te voer. Dieselfde argument geld vir plaasmoorde. Dit is bitter ironies dat kritici van AfriForum se veldtog teen plaasmoorde – in besonder sekere hoëprofielkommentators in die media – graag op dié veldtog reageer deur te sê dat dit immoreel is om ’n spesifieke groep slagoffers uit te sonder wanneer daar oor misdaad gepraat word, maar terselfdertyd vinnig is om hul steun aan die BLMveldtog te verklaar.

Wat die veldtog teen plaasmoorde en die BLM-veldtog in gemeen het, is dat daar in beide veldtogte aangevoer word dat die groep waarop daar gefokus word in buitengewone getalle op grond van hul identiteit geteiken word en dat dié krisisse ’n gefokusde teenreaksie regverdig. Wat die veldtogte nié in gemeen het nie, is dat die BLM-veldtog perfek met die hoofstroom se (dikwels kunsmatige) narratief strook, terwyl die veldtog teen plaasmoorde ’n struikelblok vir daardie narratief is. Die tweede verskil is dat die bewerings van die BLM-beweging dikwels nie met die ware syfers strook nie, maar dat hulle ten spyte daarvan deur regerings en kommentators in die hoofstroommedia ondersteun word. Aan die ander kant is die veldtog teen plaasmoorde inderdaad op konserwatief berekende syfers gegrond, maar word dit ten spyte daarvan voortdurende deur die hoofstroom aangeval.

Black Lives Matter

Elke keer wanneer ’n swart persoon in polisie-aanhouding in die VSA sterf, word ’n reuseveldtog hieroor gevoer. Dit het begin met die dood van Trayvon Martin in 2012. In 2014 was dit Michael Brown en Eric Garner. In 2020 is dit George Floyd. Daar is natuurlik ander ook. Hierdie sterftes is waarlik tragies en dit is goed dat daar teen dié gebeurtenisse geprotesteer word. Om dit egter as ’n tendens te verpak, vereis van die beweerder om te bewys dat dit inderdaad die geval is. En om ’n tendens te kan bewys, is dit noodsaaklik om statistieke in ag te neem.

Indien daar bloot op individuele basis na dié gevalle gekyk word om ’n gevolgtrekking te maak dat ongewapende swart mense stelselmatig deur die Amerikaanse polisie geteiken word, behoort ’n mens ten minste te ondersoek of dieselfde nie ook soms met wit mense gebeur nie. Daar is ongelukkig ook menige voorbeeld van ongewapende wit mense wat ook aan die hande van die Amerikaanse polisie gesterf het. Daar was Timothy Smith, William Lemmon, Ryan Bolinger, Derek Cruice, Daniel Elrod, Ralph Willis, David Cassick, Jeremy Mardis, Autumn Steele, Duncan Lemp en Tony Timpa – om maar net ’n paar te noem. Hulle name is egter nie so bekend nie omdat hulle wit was en omdat dít wat met hulle gebeur het nie gebruik kan word om ’n bepaalde rassenarratief te regverdig nie.

Dan kan ’n mens sekerlik sê dat daar iets met die VSA-polisie skort, nie waar nie? Hoe gebeur dit dat al hierdie mense sommer net so deur die polisie doodgemaak word? Natuurlik behoort die getal ongewapende mense wat deur die polisie doodgemaak word nul te wees. Die prentjie maak egter ’n bietjie meer sin as ’n mens in ag neem dat die VSA meer as 330 miljoen inwoners het en daar ongeveer 10 miljoen arrestasies per jaar gemaak word. Die syfers moet dus in dié konteks gesien word voordat gevolgtrekkings oor die polisie se gedrag gemaak kan word.

Kan ’n mens beweer dat swart mense disproporsioneel deur die Amerikaanse polisie geteiken word? Ook in dié geval is dit nodig om bepaalde konteks te gee. Een deel van die legkaart is watter deel van die Amerikaanse bevolking swart mense uitmaak. ’n Ander deel is die proporsie van moorde in die VSA wat deur swart mense gepleeg word. Dan behoort ’n mens ook vas te stel wat die verhouding is waartoe wit mense deur die Amerikaanse polisie gedood word, vergeleke met swart mense. Wat laasgenoemde syfer betref, behoort ’n mens ook te onderskei tussen die totale getal wat deur die polisie gedood is, teenoor spesifiek ongewapende mense.

Volgens die 2019-sensus bestaan die Amerikaanse bevolking uit maak sowat 60,4% wit mense, teenoor 13,4% swart mense. ’n Ontleding van alle moorde in die VSA vanaf 1980 tot 2008, volgens ras verdeel, dui egter daarop dat 52,5% van dié moorde deur swart mense gepleeg is, teenoor 45,3% van moorde wat deur wit mense gepleeg is. 52% van mense wat deur die Amerikaanse polisie gedood word, is wit; daarteenoor is 32% swart. Indien ’n mens spesifiek kyk na ongewapende persone wat deur die polisie gedood is, blyk dit dat daar in 2019 ’n totaal van 41 mense gedood is, waarvan 19 (46,3%) wit en 9 (21,9%) swart was (die res is van ander rassegroepe). Daarteenoor is 89 Amerikaanse polisiebeamptes, waarvan die oorgrote meerderheid wit was, in dieselfde tydperk gedood terwyl hulle aan diens was.

’n Mens sou dus kon sê dat ongewapende swart mense in die VSA disproporsioneel deur die polisie gedood word (21,9% van alle sterfgevalle, terwyl hulle slegs 13,4% van die bevolking uitmaak). Dit is egter misleidend om dit in isolasie te beweer indien daar nie in ag geneem word nie dat meer as 50% van moorde in die VSA deur swart mense gepleeg word. In dié verband is die getal ongewapende swart mense wat deur die polisie gedood word disproporsioneel – nie omdat dit so baie is nie, maar omdat dit so min is.

Die swart Harvard-ekonoom Roland Fryer het ná ’n ontleding van meer as ’n duisend gevalle bevind dat daar geen empiriese bewyse bestaan dat swart Amerikaners in disproporsionele getalle deur die polisie gedood word nie. Fryer was só verbaas oor sy eie bevinding dat hy dit as die mees verrassende bevinding van sy loopbaan beskryf het – juis omdat dit nie strook met die narratief waarvan ’n mens in die media lees nie. Lois James van die Washington State-universiteit het ook bevind dat polisiebeamptes in die VSA minder waarskynlik ongewapende swart mense sal skiet as ongewapende mense van ander rasse.

Plaasmoorde

In teenstelling met dié syfers vind ’n mens dat plaasmoorde in Suid-Afrika inderdaad in disproporsionele getalle plaasvind. Om die per-100 000-syfer vir plaasmoorde te bereken, is taamlik ingewikkeld, vir redes waaroor ek in my boek Kill the Boer uitwei. James Myburgh, die redakteur van Politicsweb, het reeds met 2002/2003 se data bevind dat plaasmoorde skokkend disproporsioneel tot gewapende huisrooftogte is. Om die waarheid te sê, plase is 16,7 keer meer in plaasaanvalle geteiken as wat huishoudings in rooftogte geteiken is. Later het die vryskutjoernalis Marie-Louise Antoni soortgelyke berekenings vir 2013 tot 2016 gemaak en bevind dat plase agt tot nege keer meer waarskynlik aangeval word as ander huishoudings.

Asof dit nie genoeg is nie, is die disproporsionele aard van plaasmoorde veel erger as ’n mens in ag neem dat plaasmoorde per definisie maatskaplikeweefselmisdade (Engels: social fabric crimes) op plase uitsluit, aangesien ’n plaasaanval juis behels dat die plaas deur iemand van buite met gepaardgaande gewelddadige misdade aangeval word. Daarteenoor kan ongeveer 80% van moorde in Suid-Afrika as maatskaplikeweefselmisdade beskou word – dit is dus mense wat hul lewens onder meer weens huishoudelike geweld en dronkmansgevegte verloor. Die Suid-Afrikaanse moordsyfer is ongeveer 34 per 100 000 mense per jaar. Indien maatskaplikeweefselmisdade hiervan uitgesluit word, is die moordsyfer nader aan 5 per 100 000. Indien ’n mens konserwatiewe getalle gebruik, kan die koers waarteen spesifiek boere in Suid-Afrika vermoor word op iewers tussen 80 en 100 per 100 000 per jaar bereken word.

Dan is dit ook belangrik om te noem dat die pleidooi vir die prioritisering van plaasmoorde –  anders as die BLM-pleidooi wat deur die President onderskryf word – nie op ’n rassegrondslag plaasvind nie.

Hoe nou?

Daar is dus nie fout daarmee om te sê dat moord op swart mense deur wit mense moet stop nie – net soos wat niks fout is daarmee om te sê dat moorde op boere moet stop nie. Wanneer ’n mens egter die argument probeer voer deur syferverhoudings en statistieke in ag te neem, is die pleidooi vir die prioritisering van plaasmoorde baie waterdig, terwyl die BLM-beweging se pleidooi egter in troebel waters beland.

Die goeie nuus vir die BLM-beweging is dat hul argumente deur die hoofstroom ondersteun word, ten spyte daarvan die syfers die teendeel bevestig. Daarteenoor word die eis vir die prioritisering van plaasmoorde sterk deur die syfers ondersteun, terwyl die hoofstroom probeer om dit as een of ander onderduimse agenda af te maak.

As ’n mens werklik ’n volhoubare oplossing vir hierdie twee probleme wil vind, sal ’n mens moet begin deur die hoofstroomnarratief te breek en ’n benadering te vestig wat op feite geskoei is eerder as op ideologiese of rasgedrewe politieke doelwitte.

Ernst Roets

Ernst is hoof van beleid en aksie by AfriForum

Volg Ernst op Twitter by @ErnstRoets

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN
AFRIFORUM AMBASSADEUR