--> -->
Spyskaart +

Onthullings voor Zondo-kommissie: Wat nou?

Maart 4, 2019 deur Admin

Deur Wico Swanepoel

Verdoemende onthullings word voor die Zondo-kommissie na staatskaping gemaak en die ondervraging duur steeds voort. Ons het reeds gehoor hoe die Guptas die staat gekaap en totaal in hul mag geneem het én van talle gevalle waar persone in magsposisies hul invloed misbruik het. Dit dui ongetwyfeld op handelinge van korrupsie en elkeen wat hierby betrek word, behoort vervolg te word.

Maar kan hierdie onthullings as getuienis gebruik word om suksesvolle vervolging van die betrokkenes te bewerkstellig?

Daar is onlangs aangekondig dat ’n nuwe direktoraat in die nasionale vervolgingsgesag op die been gebring is om spesifiek korrupsie te takel en om getuienis te ontleed wat voor die Zondo-kommissie gelewer is. Dit is nie baie duidelik wat die metodologie van hierdie direktoraat behels, maar ek vermoed dat dit nie met die werkwyse van die destydse Skerpioene verwar moet word nie. Die publiek het ’n onwrikbare vertroue in die Skerpioene gehad met die voormalige hoof van Gauteng, adv. Gerrie Nel, aan die stuur van sake.

Die sukses van hierdie direktoraat hang af van ’n paar ononderhandelbare stappe wat die nasionale direkteur, adv. Shamila Batohi, sal moet doen om te verseker dat die onthullings voor die Zondo-kommissie gebruik kan word. Die kommissie sal aanbevelings maak, waarna die direktoraat die ontleding van die getuienis gaan doen.

Ons word tans gekniehalter deur onbevoegde en swak polisie-ondersoeke en inmenging in die NVG deur politici wat selektiewe vervolging meebring. Boonop bestaan daar ’n wantroue in die oppergesag van die reg. Al hierdie gebreke het ’n teelaarde geskep vir georganiseerde misdaad wat hoogty vier. Statistieke toon dat 54% van die publiek nie vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens het nie.

Die nuwe direktoraat sal inderdaad ’n haas uit die hoed moet ruk om die vertroue van die publiek te wen. Die lig aan die einde van hierdie pikdonker korrupsietonnel is dat hierdie booswigte een vir een, stadig maar seker in die openbaar aan ons bekend word.

Die eerste stap in die regte rigting op die lang pad van herstel sal wees om ’n bekwame en bevoegde ondersoekspan in plek te stel. Hierdie ondersoekspan móét gelei word deur die direktoraat wat insae in die ondersoeke moet hê.

’n Volgende stap sal wees om ’n vervolgingspan saam te stel wat sonder vrees of vooroordeel vervolging sal instel. Indien ek in Batohi se skoene was, sou ek iemand soos AfriForum se privaatvervolgingshoof, adv. Gerrie Nel, aangestel het. Dit behoort iemand te wees wat onomkoopbaar is, wie se integriteit bo verdenking is en wat bereid is om onafhanklik te funksioneer. Die sukses van suksesvolle vervolgings lê daarin dat die vervolgings onafhanklik moet plaasvind.

Die persone wat tans voor die Zondo-kommissie getuig, behoort ook in strafregtelike verrigtinge as bevoegde en verpligbare getuies gebruik te kan word. Indien die getuienis voor die Zondo-kommissie behoorlik ingespan en gebruik word, kan daar suksesvolle vervolging wees.

Ten slotte:

“Die wêreld sal nie deur boosdoeners vernietig word nie, maar deur diegene wat toekyk sonder om iets te doen.” – Albert Einstein

Dit bly elkeen van ons se plig om korrupsie aan te meld en hok te slaan. Ons mag nie die gebreke van die staat as verskoning gebruik om blind vir korrupsie te wees nie. Hoop begin by onsself. Wanneer jy nie hoop in jouself koester nie, is die hoop wat jy vir ander koester tevergeefs. Skep saam met AfriForum hoop met aktiewe optrede teen korrupsie. AfriForum is daartoe verbind om fluitjieblasers te beskerm en met die aanmeld en beveg van korrupsie by te staan. Besoek gerus AfriForum se teenkorrupsiewebblad by www.stopkorrupsie.co.za.

Wico Swanepoel is AfriForum se regsadviseur vir plaaslikekorrupsiesake.