|

Onteieningswet kan Suid-Afrikaanse ekonomie vernietig

Deur: Jhua-Nine Wyrley-Birch

As die voorgenome onteieningswet deur die parlement goedgekeur word, sal dit ’n verkragting van die Grondwet wees en die belangrikste beginsel van ’n demokratiese staat, naamlik eiendomsreg, vernietig.

So meen Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake.

Jansen van Rensburg het gereageer op die aanvaarding van die wet op onteiening deur die parlementêre portefeuljekomitee. Hy het gesê as die wet finaal goedgekeur word, sal AfriSake die grondwetlikheid daarvan in die howe toets.

Die parlementêre portefeuljekomitee het die wetsontwerp goedgekeur met die doel om dit in lyn te bring met die Grondwet van Suid-Afrika. Artikel 25 van die Grondwet behels dat die onteiening van private eiendom mag plaasvind indien die regering die grond wil gebruik vir openbare doeleindes.

Volgens Jansen van Rensbug het ongelykheid en eknomomiese bevordering niks met die oogmerke van die nuwe onteieningswet te doen nie. “Dit is bloot ’n poging van die ANC om groter beheer oor individue en gemeenskappe te kry.”

Jansen van Rensburg meen dat alle vorme van eiendom nou deur die staat vir nasionalisering geteiken kan word.

Die ekonoom Mike Schussler van Economists.co.za het aan Forum Nuus gesê dat hierdie wetsontwerp negatiewe gevolge sal inhou vir beleggers en huiseienaars in Suid-Afrika. “Dit moet duidelik gemaak word in die parlament dat twee derdes van die land se bevolking, wat wel eiendom besit, negatief beïnvloed gaan word. Baie mense werk daarna om eiendom te besit en hierdie wet gaan verseker dat hulle die doelwit nie bereik nie.”

’n Kenner op die gebied van eiendomsreg meen die wye en vae bepalings van die Grondwet is die kernprobleem van die wetsontwerp. Wat eiendom betref moet daar duidelik gestel word wat “oneien” gaan beteken. “Die wetgewing van 1975 het onteiening vir ‘n openbare doel, byvoorbeeld om ‘n lughawe te bou, moontlik gemaak, terwyl die nuwe wetsontwerp dit moontlik gaan maak om grond te onteien vir openbare (dus politieke) belang.”

Die vakbond Solidariteit het die aanvaarding van die wetsontwerp as een stap nader aan die rommelstatus van die Suid-Afrikaanse ekonomie beskryf.

Volgens Johan Kruger, adjunk bestuurshoof van Solidariteit, sal die aanvaarding van die wetsontwerp deur die parlement dalk ANC-kiesers op die korttermyn tevrede stel, maar dit sal die ekonomie op die langtermyn negatief beïnvloed.

“Die ANC sal nou moet besluit of hy die reeds kreupel ekonomie nog verder deur hierdie vernietigende wetgewing wil lamlê,” het Kruger gesê.

Die DA het by monde van Anchen Dreyer, DA-LP, gesê benewens ’n paar tegniese punte is die party se grootste beswaar die definisie van eiendom en onteiening.

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings