|

Onteiening sonder vergoeding: Finansiële selfmoord vir SA se ekonomie

“Indien die regering voortgaan met onteiening sonder vergoeding, pleeg hulle ’n misdaad teen Suid-Afrikaners. Die regering se doelwit is nie om grond onder arm mense uit te deel nie, maar om grond eerder self te besit.”

Só het Corné Cronjé, AfriForum se hoof vir die Sentraal-streek, Dinsdag by ’n openbare sitting van die parlement se gesamentlike grondwethersieningskomitee in Welkom gesê.

By dié sittings kry lede van die publiek geleentheid om te sê of hulle met die wysiging van artikel 25 van die Grondwet – wat onteiening sonder vergoeding moontlik sal maak – saamstem, terwyl hulle terselfdertyd ook voorstelle of oplossings daarvoor kan bied. Elke spreker kry slegs drie minute om sy saak te stel.

Tydens die Mpumalanga-verhoor Dinsdag is onder meer gesê dat wit mense grond gesteel het en gearresteer moet word, dat plase genasionaliseer moet word en dat wit mense nie vir hul grond vergoed moet word nie.

Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga, het tydens dié vergadering in Ermelo gesê dat die regering deur onteiening hulle mislukkings ten opsigte van dienslewering probeer verbloem en dat hulle nog geen duidelikheid gegee het rakende die herverdeling van grond nie.

Bekker het voorts gesê dat dit misleidend is om te sê dat alle grond gesteel is. Hy voer aan dat tradisionele leiers destyds hul grond aan setlaars verkoop het. Hy het ook van die praktiese uitdagings wat die verhore bied uitgelig, onder meer dat dit tydens werksure plaasvind en die lokale op kort kennisgewing bekend gemaak word.

Hennie Laas van die Volksrust-boerevereniging het tydens sy spreekbeurt in Ermelo gewaarsku dat onteiening sonder vergoeding nie die land se ekonomiese probleme gaan oplos nie, maar dit eerder gaan vererger.

Barnard Molenyane (59), wat op ’n kleinhoewe buite Bloemfontein boer, het ook tydens dié sitting gesê dat onteiening sonder vergoeding “ekonomiese selfmoord” vir die land is.

Julius Malema, EFF-leier, moes ook in ’n stadium die skare tydens dié stampvol verhoor stilmaak nadat sekere sprekers uitgejou is. “Jy stem dalk nie saam met wat ander sê nie, maar jy moet daarna luister en ’n dik vel hê.”

AfriForum neem vandag ook deel aan dié sittings in Bethlehem en Middelburg.

Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, het tydens die vergadering in Bethlehem daarop gewys dat grondhervorming en onteiening ’n baie ernstige saak is en dat die Vrystaat as provinsie nie geskik is om dit te bestuur nie omdat die provinsiale regering ’n lang geskiedenis van wanadministrasie het.

“Hoeveel staatsdepartemente in die Vrystaat kom hulle verpligtinge na? Hulle is geplaag deur korrupsie en wanadministrasie. As daar verder gekyk word na die bestuur van munisipaliteite in die Vrystaat, is daar probleme van begin tot einde,” sê Mostert.

Die volgende vergadering vind op 17 Julie in Taung, Noordwes plaas. Hou AfriForum se Facebook-blad dop vir meer inligting.

Soortgelyke plasings