Onteiening sonder vergoeding bly ’n meulsteen om Ramaphosa se nek by Davos-beraad


Die Suid-Afrikaanse burgerregte-organisasie AfriForum het president Cyril Ramaphosa skerp gekritiseer nadat hy vandag tydens sy voorlegging by die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se beraad in Davos, Switserland die indruk geskep het dat Suid-Afrika ’n veilige hawe vir internasionale beleggers is, terwyl hy in Suid-Afrika volhard met sy dryf om privaat eiendom sonder vergoeding te onteien.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die president die indruk geskep het dat Suid-Afrika op die pad van ekonomiese herstel is, terwyl die land vir die eerste keer in die geskiedenis die punt bereik het waar Suid-Afrikaners meer in die buiteland belê as wat buitelanders in Suid-Afrika belê.

Roets sê dat die president nie die intelligensie van internasionale beleggers moet onderskat nie en dat hy klaarblyklik steeds in ontkenning is oor die feit dat sekerheid oor die beskerming van eiendomsreg ’n voorvereiste vir ekonomiese groei is. “Wanneer die president in Suid-Afrika praat, vertel hy vir ons dat hy privaat eiendom sonder vergoeding sal onteien. Maar wanneer hy in Switserland praat, vertel hy dat mense se beleggings veilig in Suid-Afrika sal wees.”
Roets voeg by dat AfriForum ook die buiteland wil aanmoedig om in Suid-Afrika te belê, aangesien dit in almal in Suid-Afrika se belang sal wees. “Om ’n ongunstige klimaat vir beleggings te skep en dan beleggers gerus te stel dat die klimaat gunstig is, is egter irrasioneel. As die regering werklik ernstig oor buitelandse beleggings is, sal ’n gunstige klimaat geskep moet word. Die eerste stap wat in hierdie verband geneem moet word is die versekering dat daar nie met die grondwetlike reg om privaat eiendom te besit gepeuter sal word nie.”

Soortgelyke plasings