|

Onteiening sonder vergoeding: AfriForum en Cope snoer kragte saam

“Ons wil die voorbeeld stel dat verskillende Suid-Afrikaanse gemeenskappe saam kan werk omdat eiendomsregte in almal se belang is.”

Só het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum, vandag tydens ’n gesamentlike konferensie met die opposisieparty COPE in Pretoria gesê. Daar is tydens dié konferensie aangekondig dat AfriForum en Cope hande in die stryd teen onteiening sonder vergoeding sal vat.

Kriel en Mosiuoa Lekota, president van COPE, sal buitelandse ambassades in Suid-Afrika saam besoek om te versoek dat die internasionale gemeenskap druk op die Suid-Afrikaanse regering en die regerende ANC toepas om die Suid-Afrikaanse Grondwet, eiendomsreg en die 1994-skikking te eer. Hul meen die ANC moet voorts aanvaar dat hulle nie ’n wetlike mandaat via ’n verkiesing vanaf Suid-Afrikaanse kiesers het om die Grondwet te wysig nie.

Volgens Kriel sal die ambassades wat besoek gaan word bekend gemaak word sodra die afsprake bevestig is.

COPE en AfriForum se besluit om die Grondwet, eiendomsreg en die 1994-skikking te verdedig, kom ná president Cyril Ramaphosa se aankondiging op 31 Julie vanjaar dat hy en die ANC besluit het om die eiendomsregklousule in Artikel 25 van die Suid-Afrikaanse Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding toe te laat.

Lekota het uitgewys dat die wysiging van die Grondwet die alleenreg van Suid-Afrikaanse kiesers is en nie van die ANC, Ramaphosa, die parlement of enige party nie.

Volgens Lekota geld die Desember 2017 Nasrec-konferensievoorneme deur die ANC nie as ’n regmatige mandaat vanaf Suid-Afrikaanse kiesers nie.

Hy sê voorts dat president Ramaphosa se aankondiging om die Grondwet se voorwaardes in terme van eiendomsreg te verander, sy ampseed verbreek, sowel as Artikel 83(b) van die Grondwet, wat stipuleer dat die president van Suid-Afrika die Grondwet moet handhaaf, verdedig en respekteer.

“Die ANC doen sy eie ding en ag homself hoër as die Grondwet. Ons sal nie met diegene werk wat nie die Grondwet respekteer nie. Ons is bereid om tronk toe te gaan vir hierdie Grondwet en ons gaan dit in plek hou.”

Lekota sê ook dat grondhervorming nodig is en verwelkom word, maar nie op dieselfde wyse as Zimbabwe nie – wat volgens hom chaoties, verwarrend en rampspoedig vir die ekonomie was.

“Ons moet dit ten alle koste vermy. Grondhervorming moet duidelik, wettig en regverdig geskied. Dit moenie verdeeldheid tussen rasse veroorsaak nie en dit moet tot ekonomiese ontwikkeling lei – nie tot die ineenstorting van die ekonomie nie. Die huidige resessie en swak presterende landbousektor moet vir almal van ons ’n groot waarskuwing wees.”

Kriel het voorts verduidelik dat die Suid-Afrikaanse Grondwet en die beskerming van eiendomsreg soos dit daarin vervat is, die resultaat van ʼn onderhandelde skikking was wat in die vroeë 1990’s tussen verskeie partye bereik is, waarvan die ANC en die destydse Nasionale Party die hoofrolspelers was.

“Ramaphosa en die ANC se besluit om die Grondwet te wysig dui aan dat die ANC die 1994-skikking openlik verbreek. Omdat internasionale druk ’n rol gespeel het in die oorreding van die verskeie partye om tot die 1994-skikking te kom, het die internasionale gemeenskap nou ook ’n verantwoordelikheid om te help toesien dat die ANC by daardie skikking hou,” sê Kriel.

COPE en AfriForum beskou hul samewerking om eiendomsreg te beskerm as ’n positiewe voorbeeld van hoe burgers vanuit verskillende agtergronde, en wat somtyds verskillende standpunte het, wel suksesvol kan saamwerk deur wedersydse erkenning, respek en deur te fokus op sake van gedeelde belang.

“Suid-Afrikaners – swart, wit, Indiër, Khoisan en bruin – moet nie toelaat dat die ANC-EFF-alliansie ons verdeel of tot haat en geweld dryf nie. Dit sal net tot die voordeel van ’n ANC-EFF-elite strek wat sal poog om te midde van ons verdelings oor ons te heers.”

AfriForum het verlede week ook onteiening sonder vergoeding in die parlement gekap en in hul voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee aangevoer dat die ANC/EFF-alliansie se inisiatief om onteiening sonder vergoeding deur te voer ’n poging is om soveel as moontlik mag in die staat te sentraliseer en dat die aanvoerders van hierdie beleid geen ontsag vir die pleidooi van arm Suid-Afrikaners toon nie.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, voer in sy voorlegging namens AfriForum aan dat die ANC en sy alliansievennoot, die EFF, se veldtog op ’n reeks drogargumente geskoei is en dat daar meer sinvolle stappe is wat geneem kan word om grondhervorming op ’n gesonde wyse te bewerkstellig. Dit sluit die volgende in:

  • Die erkenning van eiendomsreg as vertrekpunt.
  • Die doeltreffende bekamping van korrupsie, in besonder korrupsie wat met grondhervorming gepaard gaan.
  • Restitusie wat op ’n feitelike en bewysbare perspektief op die verlede geskoei is.
  • Die uitreik van titelaktes aan miljoene lede van die publiek wat op staatsgrond woon.

Soortgelyke plasings