|

#OnsDorp-veldtog: AfriForum-tak in Vryburg speel klaar met slaggate

Die AfriForum-tak in Vryburg het die afgelope maand oorlog verklaar teen die ontelbare slaggate in die dorp, as deel van die organisasie se #OnsDorp-veldtog. Die tak het reeds 20 dromme teer gebruik en in die proses ook werk aan vyf mense verskaf. Ongeveer 710m² se slaggate is reeds gevul; veral in die strate met die meeste verkeer.

Die Naledi Plaaslike Munisipaliteit is nie in staat om iets aan die slaggate te doen nie, omdat daar geen fondse is nie. Intussen ly die inwoners en hulle voertuie daaronder en daarom het die plaaslike AfriForum-tak ingespring.

Daar is nog heelwat slaggate wat herstel moet word waarvoor die Vryburg-tak nie meer fondse beskikbaar het nie. Die tak wil graag inwoners en sakeondernemings vra om ’n bydrae te maak om teer aan te koop. Een drom teer beloop R1 900. Indien inwoners of sake­ondernemings teer skenk, onderneem die tak om toe te sien dat alle slaggate gevul word in die betrokke straat waarin die inwoners bly of die ondernemings geleë is. Kontak vir Dries van Wyk by 082 944 7087 om ’n bydrae te maak.

“Hierdie is ’n wonderlike inisiatief van die tak om ’n daadwerklike verskil in ons dorp te maak. Ek wil graag Vryburg se inwoners en ondernemings aanmoedig om by die projek betrokke te raak en op dié manier ’n positiewe verskil te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distriks­koördineerder vir Stellaland.

Die tak bedank graag vir Northwest Crushers wat die klip skenk waarmee die gate gevul word, asook vir Gideon du Preez vir die gebruik van sy toerusting.

Soortgelyke plasings