|

#OnsDorp-veldtog: AfriForum-tak in Sasolburg help skole om gevaarlike groen strook skoon te maak

Die AfriForum-tak in Sasolburg het op 12 Oktober 2019 ’n skoonmaakaksie naby Hoërskool Fakkel en Hoërskool Sasolburg gehou as deel van die organisasie se #OnsDorp-veldtog. Dit volg nadat die SAPD en wyksraadslede die tak genader het om hulp te verleen met die skoonmaak van die groen strook tussen die hoërskole. Hierdie oorgroeide strook was ’n veiligheidsrisiko en leerders is al in die gebied beroof. Die strook het ook skuiling aan dwelmhandelaars en ander boosdoeners gebied, aangesien bome nie gesnoei is nie en die gras lank was.

Die tak het die uitdaging aanvaar en met die skole gereël vir werkers en toerusting. ’n Daadwerklike verskil is reeds tydens dié skoonmaakaksie gemaak.

“Baie dankie aan almal wat Saterdag kom help het. Ons wil gemeenskapslede graag uitnooi om ons op Saterdag 19 Oktober met die volgende skoonmaakaksie te kom help. Inwoners wat wil kom help, moet asseblief bossiesnyers en sae saambring. Die tak sal die petrol vir dié toerusting verskaf,” sê André Vallentgoed, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-buurtwag.

“Hierdie mense het werklik ’n verskil in die veiligheid van die betrokke skole se leerders gemaak. Dit is wonderlik dat gewone inwoners die nood raaksien en iets daaraan doen. Ek glo dat daar eerskomende Saterdag baie meer mense betrokke sal wees,” sluit Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, af.

Die tak wil graag die volgende mense bedank: I-Water van Vanderbijlpark wat water vir al die werkers geborg het en Peet van Zyl van Speedmark in Sasolburg, vir die voorlaaier wat hy beskikbaar gestel het wat dieselfde werk verrig het wat minstens 50 mans sou moes doen.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke: SMS “Sasolburg” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings