#OnsDorp-veldtog: AfriForum se Springs-tak loods skoonmaakaksie by Oorlogsmonument

Die AfriForum-tak in Springs het op 2 November 2019 ’n massaskoonmaakaksie by die Oorlogsmonument in dié dorp van stapel gestuur. Hierdie aksie vorm deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog.

Die tak het op hierdie monument – ’n gedenkteken van die Eerste Wêreldoorlog – vir die aksie besluit omdat dit ’n steen des aanstoots vir die gemeenskap geword het. ’n Plaaslike kontrakteur het die gras gesny terwyl taklede die rommel in die gebied opgetel het. Tak- en gemeenskapslede het verder hulp verleen om bome te snoei, bossies te verwyder en vullis in die gebied op te tel. Ongeveer tien vullissakke is gevul.

“Die netheid van Springs is besig om geweldig agteruit te gaan, terwyl die heining rondom die monument ook gevandaliseer word. Hawelose mense gebruik die gebied as ’n onwettige slaapplek en gevolglik is dit ’n veiligheidsrisiko vir gemeenskapslede. Die tak gaan voorts soortgelyke aksies loods om gemeenskapslede se betrokkenheid op proaktiewe wyse te mobiliseer en druk op die plaaslike regering uit te oefen,” sê Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.

 

“Aksies soos hierdie dien as konkrete bewys dat gemeenskapstrukture hulself tot ’n skoner, veiliger en volhoubare toekoms moet beywer en self betrokke moet raak om probleme proaktief op te los. Die gemeenskap word aangemoedig om by die tak se projekte betrokke te raak,” sluit Swart af.

Soortgelyke plasings