|

#OnsDorp-veldtog: AfriForum se Rayton-Cullinan-tak hou skoonmaakaksie

AfriForum se Rayton-Cullinan-tak het op 14 September 2019 ’n skoonmaakaksie by die ou poskantoor-gebou in Rayton gehou nadat die takbestuur dié aksie as deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog geïdentifiseer het.

Volgens Karen Yssel, voorsitter van AfriForum se Rayton-Cullinan-tak, is die aksie geïdentifiseer om ’n positiewe verskil te maak en die dorp te verbeter. “Die verlate poskantoor is ’n steen des aanstoots en was baie verwaarloos. Met die aksie het ons die erf weer mooi skoongemaak en opgeknap. Ons beplan ook om die veiligheid om die gebou op te skerp deur diefwering en ’n nuwe traliehek te installeer sodat sluipslapers nie meer in die gebou kan slaap nie.”

Die tak het ook tydens die aksie boerewors gebraai en worsbroodjies vir gemeenskapslede uitgedeel wat gehelp het. “Ons het die gemeenskap betrek om die aksie saam met AfriForum aan te pak en so ook mense te inspireer om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Ons bedank graag vir Garden Monkeys- en Home PIN-tuindienste wat ons gratis gehelp het om die aksie suksesvol uit te voer.”

AfriForum nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak: SMS jou naam na 45341 (R1) en help dié tak om ’n positiewe verskil te maak.

 

Soortgelyke plasings