|

#OnsDorp-veldtog: AfriForum se Delareyville-tak maak park skoon

AfriForum se Delareyville-tak het vandeesmaand die groot park tussen Protea- en Diedericksstraat skoongemaak as deel van dié organisasie se #OnsDorp-veldtog. Verskeie inwoners het oor die toestand van die park gekla en vullis is gereeld daar gestort. Die AfriForum-tak het dadelik ingespring om die park skoon te maak. Die gras is gesny, vullis is verwyder en die stormwaterkanale is skoongemaak.

“Ons is trots op ons dorp en besef dat die skoonmaak van die park nie net die dorp netjieser laat vertoon nie, maar ook ons buurtwag met patrollies help aangesien daar nou minder wegkruipplek vir misdadigers is,” sê Rassie Erasmus, voorsitter van AfriForum se Delareyville-tak.

Die inwoners van Protea- en Diedericksstraat het AfriForum bedank vir hul dienste en inisiatief. “Volgens die inwoners laat die skoon park en kort gesnyde gras hulle sommer veiliger voel,” sluit Erasmus af.

“Ons nooi die inwoners van Delareyville uit om deel van die plaaslike tak te word om ’n positiewe verskil in die gemeenskap te maak,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Soortgelyke plasings